|

AfriForum help Karoo-gemeenskap tydens reuse-kragonderbreking

AfriForum het hulp verleen aan die Karoo-gemeenskap wat al meer as ’n week onder ’n wydverspreide kragonderbreking gebuk gaan. Verskeie dorpe in die Wes-Kaap waaronder Merweville, Laingsburg, Matjiesfontein, Ladismith en Prins Albert is sonder elektrisiteit nadat verskeie kragmaste weens ’n reuse-storm omgewaai het.

AfriForum het oor ’n tydperk van sewe dae altesaam 1 050 liter brandstof aan Huis Kweekvallei in Prins Albert en Huis Izak van Tonder in Ladismith vir hul kragopwekkers beskikbaar gestel. Verder het die AfriForum-tak in Mosselbaai 4 000 liter drinkwater vir die gemeenskap ingesamel, terwyl AfriForum se George-tak ’n kragopwekker aan ’n boer voorsien het om sy saailinge en diere water te gee.

AfriForum werk nou saam met die Wes-Kaapse provinsiale rampbestuursafdeling en wil Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap, gelukwens met die goeie hantering van die voorval vanaf provinsiale vlak tot op voetsoolvlak.

Die Wes-Kaapse regering het reeds ’n gebeurlikheidsplan in plek gehad indien daar ’n groot kragonderbreking sou plaasvind. Al die nodige departemente het onmiddellik deel gevorm van die Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS) wat onder meer bestaan uit Eskom, die departement van Gesondheid, plaaslike regering, munisipale infrastruktuur, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Deur ’n GOS in plek te hê word daar verseker dat daar goeie kommunikasie is vanaf voetsoolvlak na provinsiale vlak en vice versa. Probleme kan ook vinniger opgelos word.

“Die belangrikheid van samewerking en ’n goeie gebeurlikheidsplan kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die ander provinsies en munisipaliteite kan verseker by die Wes-Kaapse regering leer hoe om so ’n groot voorval met uitdagings suksesvol te bestuur. Die uitdaging altyd met ’n groot insident of ramp is dat die weerloses en armste van die armes die meeste daaronder lei,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

AfriForum het ’n noodfonds waar donasies gemaak kan word om die behoefte op voetsoolvlak te help. Gaan na www.afriforum.co.za  en kliek op die “skenk nou”-knoppie om ’n bydrae te lewer.

Soortgelyke plasings