|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek skole in George

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het vanaf 16 tot 18 Augustus by agt skole in George besoek afgelê. Hierdie skole sluit in Dellville Park Primary School, Pacaltsdorp Primêre Skool, New Dawn Park Primêre Skool, St. Mary’s RK Primêr, Rosemoor Primêre Skool, Heidedal Primêre Skool, Kretzenshoop Primêre Skool en Laerskool Blanco. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Dit was ’n groot plesier om AfriForum by ons skool te kon hê.  Baie dankie vir julle uitstekende aanbieding. Ons opvoeders en leerders kan nie uitgepraat raak oor hoe fantasties dit was nie. Een opvoeder se kommentaar was dat die leerders hul woordeskat verder kon uitbrei en dat hulle meer van rym geleer het – die aanbieding was baie prakties. AfriForum is altyd welkom by ons skool.  Baie van ons leerders word geboelie by die huis, deur die gemeenskap en by die skool. Ons  doel is om ’n skool en gemeenskap te wees wat vry is van enige vorm van boelie, daarom is dit vir ons so belangrik om gedurig programme aan te bied wat leerders van boeliegedrag bewus maak,” sê Melanie Haupt, die leerondersteuningopvoeder by St. Mary’s RK Primêr.

“Baie dankie aan AfriForum vir jul besoek aan ons skool. Ons kinders kom uit ’n gemeenskap met ’n boeliekultuur en baie kinders kry daagliks werklik swaar af gevolg van ’n geboeliery by die skool en tuis. Groter en gereelde bewusmaking is dus nodig om hierdie probleem hok te slaan. Ek glo en vertrou dat julle besoek ’n groot impak op ons leerders gemaak het,” sê Rita van Heerden, onderwyser by Kretzenshoop Primêre Skool.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.

Soortgelyke plasings