|

Malmesbury-tak takel verwaarloosde monument

AfriForum se Malmesbury-tak het die afgelope Saterdag (18 November) ’n opwindende erfenisprojek aangepak en die verwaarloosde monument vir gevalle soldate in dié Wes-Kaapse dorp skoongemaak. Hierdie opknappingsprojek is die eerste groot gemeenskapsprojek wat dié onlangs gestigte Malmesbury-tak getakel het.

Die verwaarloosde gedenkteken vir gevalle soldate in Voortrekkerweg is opgeknap en die sypaadjie is verfraai. Daar is van vroegoggend af pik geslaan, gespit, geskoffel en gespuit om hierdie statige monument tot sy eertydse glorie te herstel en om sodoende erkenning te gee aan mense wat die hoogste prys betaal het vir hul land en hul geliefdes.

Volgens Marius van Zyl, Malmesbury-taklid verantwoordelik vir plaaslikeregeringsake, het die monument ook voorheen ’n gedenkplaat gehad, maar dié is intussen deur vandale afgebreek en gesteel. Hy moedig gemeenskapslede wat foto’s van die oorspronklike gedenkplaat het, om dié inligting met die tak te deel sodat die gedenkplaat met die oorspronklike bewoording daarop weer op die monument aangebring kan word.  

Riaan Muller, voorsitter van die Malmesbury-tak, voer aan dat die doel van dié erfenisprojek is om inwoners se rol as verantwoordelike burgers na te kom. “Ons vereer en gedenk graag die mense wat in die verlede vir ons opofferings gemaak het en help terselfdertyd ook om ons dorp se openbare ruimtes in stand te hou.”

Die tak beoog om in die toekoms ook die nabygeleë Voortrekkergedenkteken op te knap en ook aksies vir die verfraaiing van die omliggende omgewing aan te pak.

Hierdie gemeenskapsdiens word aangepak deur vrywilligers in hul vrye tyd en sonder enige vergoeding. AfriForum se Malmesbury-tak sal graag wil sien dat die gemeenskap ook inkoop by hierdie inisiatief, sodat plaaslike regering, besighede, ander organisasies en die publiek deur samewerking aktief kan deelneem aan projekte wat ’n daadwerklike verskil maak. Die tak nooi dus alle belangstellendes uit om by AfriForum aan te sluit en dié plaaslike tak se projekte te ondersteun.

Kontak Riaan Muller  by 072 920 2984 of stuur ’n e-pos aan  malmesbury.voorsitter@afriforumtak.co.za om by dié tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings