|

BELA: AfriForum dien kommentaar in vir volgende ronde openbare verhore, doen beroep op publiek om ook deel te neem

Die volgende ronde openbare verhore oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) neem tans ’n aanvang in Mpumalanga. Die inligting hieroor is beperk en met kort kennisgewing versprei. AfriForum het pas skriftelike kommentaar by dié provinsie se wetgewende gesag ingedien en sal ook sover moontlik die openbare verhore in Mpumalanga bywoon.

Hierdie proses volg nadat die wetsontwerp op 26 Oktober vanjaar deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is en na die Nasionale Raad van Provinsies vir besluitneming verwys is. Te oordeel aan Mpumalanga se beroep op die publiek om voorleggings te doen, het die provinsies besluit om eers weer ’n proses van openbare raadpleging te onderneem voor die wetsontwerp goed- of afgekeur word.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is vorige raadplegingsessies goed ondersteun. ’n Oorweldigende aantal teenwoordiges het tydens dié sessies daarop gewys dat die konsepwet artikels bevat wat ’n ernstige bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig oor die algemeen en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder inhou. Dit sal ook gemeenskappe en ouers se besluitnemingsmagte oor hul kinders se onderwys beëindig. Die konsepwet maak onder meer voorsiening vir magsentralisasie in die hande van provinsiale onderwyshoofde om ’n finale besluit oor skole se toelatings- en taalbeleide te neem. Hierdie mag berus tans by demokraties verkose beheerliggame en nie by die staat nie. Provinsiale onderwyshoofde is boonop politieke aanstellings met ideologiese agendas.

“Gemeenskappe het ’n reg om oor die taal- en toegang tot hul skole te besluit. Moedertaalonderrig is noodsaaklik vir die beste leeruitkomste. Beheerliggame spandeer ook jaarliks miljoene rande om ekstra poste in skole te skep sodat kinders nie in oorvol klaskamers beland nie. Indien die huidige weergawe van die wetsontwerp aanvaar word, sal ouers hierdie finale besluitnemingsmagte verloor en kinders nóg meer uitlewer aan die politieke magspeletjies en administratiewe wanbestuur van die staat. AfriForum doen daarom ’n beroep op almal wat belange by ons kinders se toekoms het, om aan hierdie openbare raadplegingproses deel te neem, selfs al het hulle by vorige geleenthede reeds hieroor kommentaar gelewer of ingedien,” sê Bailey.

Die openbare verhore in Mpumalanga is soos volg geskeduleer:

  • 23 November 2023: Mmametlhake Gemeenskapsaal, Dr. J.S. Moroka Plaaslike Munisipaliteit (10:00-13:00)
  • 29 November 2023: Vukuzakhe Gemeenskapsaal, Pixley Ka Seme Plaaslike Munisipaliteit (10:00-13:00)
  • 30 November 2023: Jepees Reef Gemeenskapsaal, Nkomazi Plaaslike Munisipaliteit (10:00-13:00)

Skriftelike kommentaar kan tot 31 Januarie 2024 gestuur word aan prettyma@mpuleg.gov.za.

Soortgelyke plasings