|

EMPD verwyder onwettige plakkers in Primrose ná druk deur AfriForum se Germiston-tak

AfriForum se Germiston-tak het vandeesweek daarin geslaag om die onwettige plakkerstrukture wat oorkant die Primrose-polisiestasie opgerig is, met die hulp van Ekurhuleni se metropolisie (EMPD), te laat verwyder. Dit volg nadat AfriForum volgehoue druk op die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit geplaas het vir die verwydering van dié onwettige strukture.

Volgens Kaye Labuschagne, plaaslike regeringsake verteenwoordiger van AfriForum se Germiston-tak, het die AfriForum-buurtwag in die afgelope paar maande ’n toename in kriminele aktiwiteite in en om hierdie groeiende nedersetting opgemerk. Daarbenewens het inwoners van die kamp hul skuldig gemaak aan onwettige storting. Aangesien daar ook geen sanitêre geriewe was nie, het die kamp boonop ook ’n gesondheidsrisiko ingehou.

EMPD Germiston-Noord het kampinwoners die afgelope Dinsdag (12 September), onder leiding van inspekteur J. Dlamini, toegespreek en versoek om hul persoonlike eiendom van die terrein af te verwyder. Hierna is alle onwettige strukture afgebreek en met die hulp van die munisipaliteit se vullisverwyderingsdiense verwyder.

“Hierdie kwessie was ’n groot bron van kommer vir die inwoners van Primrose. Daarom bedank AfriForum se Germiston-tak graag Ekurhuleni se adjunk-polisiehoof, Goodman Mzolo, en hoofsuperintendent J. Gebhuza vir die bystand wat hulle in dié proses aan die Primrose-gemeenskap gebied het,” sê Labuschagne.

“Ek is baie trots op wat AfriForum se Germiston-tak vermag het. Hierdie tipe sukses is ’n bewys van hoe ’n gemeenskap deur middel van samewerking sy eie veiligheid effektief kan bevorder,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Oos-Rand

Raak betrokke by die Germiston-tak en help om ’n verskil te maak. Kontak die tak per e-pos by germiston@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings