|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se takke het ’n besige week agter die rug waar hulle volhoubare projekte aangepak het. Dié burgerregteorganisasie het ook die Departement van Basiese Onderwys gemaan om nie die publiek te probeer mislei oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) se doel nie.

Die Departement van Basiese Onderwys het ’n mediaverklaring uitgereik waarin hulle sê die BELA-wet is nie ’n bedreiging vir moedertaal onderrig nie en dat dit nie ’n agenda teen ’n spesifieke taal het nie. AfriForum meen egter hierdie verklaring is misleidend en dat die departement die publiek se intelligensie onderskat. ANC-lede het al verskeie kere gesê die bestaan van enkelmedium Afrikaanse skole is onaanvaarbaar. Besoek www.stopbela.co.za om AfriForum te help om teen die BELA-wet te veg.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

AfriForum het vandeesweek argumente rakende die magte en bevoegdhede van die Menseregtekommissie (MRK) aangevoer in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein. Die MRK voer in hierdie saak aan hul aanbevelings moet bindend wees. AfriForum meen die MRK moet eerder samewerking tussen partye bevorder en dat die kommissie se aanbevelings slegs afdwingbaar word ná ’n hofbevel bekom is.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum

Dié burgerregteorganisasie het ook ’n dringende aansoek teen Rand Water gebring ná dit aan die lig gekom het dat die watervoorsiener toevoer na verskeie munisipaliteite verminder het. Toegang tot skoon water is ’n basiese mensereg. Die besluit om watervoorsiening te verminder – al is dit dalk gedryf deur operasionele of finansiële beperkings – het verrykende implikasies vir die geaffekteerde gemeenskappe, veral vir die mees kwesbares. Ter wille van aanspreeklikheid en deursigtigheid, het AfriForum regstappe teen Rand Water begin om sodoende die bekommernisse wat deur hierdie aangeleentheid veroorsaak word, die hoof te bied.

AfriForum se Klerksdorp-tak het die afgelope naweek met die DA en LHFW-buurtwag hande gevat om in Flimieda skoon te maak. AfriForum het brandstof verskaf vir bossiekappers en dies meer om bome te snoei en gras te sny. Drie trokvragte vullis en boomtakke is weggery.

AfriForum se Klerksdorp-tak het die afgelope naweek met die DA en LHFW-buurtwag hande gevat om in Flimieda skoon te maak.

In Bethlehem het die AfriForum-tak die Hoërskool Witteberg se terrein meer toeganklik gemaak en die netbalbaan opgeknap. Die skool het teer vir die projek aangekoop waarna AfriForum-taklede slaggate in looppaadjies en ander paadjies by die skool gevul het. ’n Teermengsel is ook gebruik om die oppervlak van die netbalbaan te dek. Die doel hiervan is om die baan mooi gelyk te maak en te verhoed dat krake en klein gaatjies in die baan groter word.

Die AfriForum-tak in Sasolburg is al bekend vir hul grassny- en skoonmaakprojekte. Inwoners het in Februarie met die tak se toerusting meer as 34 ha gras gesny en ’n verdere 5,3 ha skoongemaak. Dié tak se mark, wat altyd by die Hoëveld Tuine aangebied was, sal op 30 Maart vir die eerste keer by Die Veiling plaasvind. Dit beloof om lekker gesellig te wees en die gemeenskap word uitgenooi om die mark te ondersteun.

AfriForum se Johannesburg-Noord-tak het ’n ooreenkoms met Aqua Earth Consulting aangegaan om drinkwater gratis aan die gemeenskap beskikbaar te maak. Dit volg ná dele van Johannesburg vir meer as ’n week sonder water was.

AfriForum voorsien water aan die gemeenskap in Johannesburg.

Soortgelyke plasings