|

AfriForum sê solank BELA-wetsontwerp voorhande is, is president se woorde oor moedertaalonderrig slegs lippediens

AfriForum het in reaksie op president Cyril Ramaphosa se voorspraak vir moedertaalonderrig verklaar dat dit lippediens sal bly solank die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) nie geskrap word nie.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die wetsontwerp in sy huidige formaat die ernstigste bedreiging vir moedertaalonderrig in enige van die land se inheemse tale en veral Afrikaans.

Met verwysing na die president se openingsrede by die Departement van Basiese Onderwys se byeenkoms gister (14 Maart 2024), meen sy dat sy verwysing na kinders wat uitgesluit word van gehalte onderrig en die nodige infrastruktuur, die indruk skep dat dit skole se skuld is, in plaas daarvan om die ware skuldige, naamlik die wanfunksionele departement voor stok te kry.

“Tans het AfriForum byvoorbeeld kontak met ’n skool wat meer as ’n honderd kinders per klas moet akkommodeer. Van die kinders gaan skool onder bome. Die ablusiefasiliteite is haglik. Tog is die antwoord op die ouerbeheerliggaam se vrae dat die departement nie geld het om meer fasiliteite te skep nie en dat die skool eintlik nog 102 kinders moet akkommodeer wat tans elders skoolgaan. Tans kan die beheerliggaam hierdie onredelike versoek weier, maar as BELA in die huidige formaat aanvaar en geïmplementeer word, kan die provinsiale hoof bloot hulle wense ignoreer. Ons besef ook dat dit nie die enigste skool is met hierdie uitdagings nie, wat die situasie net meer tragies maak,” verduidelik Bailey.

AfriForum hou vol dat die artikels van BELA wat met beheerliggame se besluitnemingsmagte oor toelating- en taalbeleide, asook aankope te make het, ten doel het om meer mag in die regering se hande te sentraliseer en die departement se vele gebreke toe te smeer. “Dit is verder sonder twyfel gerig teen Afrikaanse skole. Ons sal daarom alle moontlike nasionale en internasionale stappe neem om dit teen te staan,” sluit Bailey af.

AfriForum hou die publiek by www.stopbela.co.za ingelig oor besware teen die wetsontwerp en tref  voorbereidings vir regsaksie daarteen indien dit in die huidige vorm aanvaar word.

Soortgelyke plasings