|

Herbert-skool: En daar was water!

Die Herbert Street Special School in Belville, Kaapstad, se syfergat (wellpoint) werk uiteindelik weer nadat dit ’n geruime tyd buite werking was.

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het verlede week ’n kontrakteur aangestel om die syfergat se pomp te vervang nadat die vorige een meer as ’n jaar gelede gesteel is. Die kontrakteur het ook ’n lekkende pyp vervang en ’n kraan naby die klaskamers geïnstalleer. Nou kan die onderwysers ook uiteindelik die allerbelangrike waterspel met die outistiese kinders doen, wat help met onder meer hand-oog-koördinasie.

Hierdie inisiatief is ook deel van ’n groter plan om ’n groentetuin op die skoolterrein te vestig en die syfergat sal ’n deurslaggewende rol speel om die sukses daarvan te verseker.

CJ Scholtz, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak, het sy dankbaarheid uitgespreek om deel te kon wees van hierdie projek.

“Die Kaapstad-Noord-tak was nog altyd daartoe verbind om ’n positiewe impak op die gemeenskap te hê en hierdie projek is geen uitsondering nie. Deur die behoefte aan ’n groentetuin by die skool te erken, het die tak ’n diep begrip aan die belangrikheid van voeding in die lewens van studente getoon. Met hierdie projek het die tak nie net die behoefte aan watervoorsiening getakel nie, maar ook bygedra tot die algehele volhoubaarheid van die inisiatief,” sê Scholtz.

Soortgelyke plasings