Beweerde Media24-plan ’n minagting van Afrikaans 

Indien die bewerings van die moontlike staking van die gedrukte uitgawes van twee groot Afrikaanse koerante in die Media24-stal waar is, sal dié reusemediamaatskappy sy historiese verantwoordelikheid teenoor sy Afrikaanse lesers ernstig versaak. AfriForum benadruk dat Media24 sy ontstaan deur befondsing en opofferings uit Afrikaanse geledere uit die oog verloor het en met dié beweerde stap sy rug draai op die gemeenskap wat al meer as ’n eeu lank aan dié instelling help bou het.

Die gedrukte weergawe van die ikoniese Afrikaanse publikasies Rapport en Beeld kan volgens mediaberigte wat vroeër vandag verskyn het, moontlik binnekort iets van die verlede wees. AfriForum voer egter aan dat die staking van dié gedrukte koerante ’n segment van die Afrikaanse lesersmark, wat om verskeie redes nog nie die skuif na aanlyn koerante gemaak het nie, sonder ’n betroubare alternatief sal laat.  Vir baie ander lesers is data ook te duur om digitale media na behore te benut.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is beide Rapport en Beeld volgens mediabronne steeds winsgewende publikasies, ten spyte van druk op sirkulasiesyfers. Daar is steeds ’n waardevolle plek vir gedrukte Afrikaanse koerante en tydskrifte naas suksesvolle aanlyn Afrikaanse nuusplatforms soos Maroela Media.

“Media24 en Naspers moenie vergeet waar hulle vandaankom nie. Die Afrikaanse gemeenskap ondersteun dié mediainstellings reeds meer as 100 jaar lank getrou. Die maatskappye wat hieruit gebore is, dra as’t ware ’n skuldlas teenoor die gemeenskap wat die vestiging van hul publikasies moontlik gemaak het en waarop daar nou op verskeie ander terreine suksesvol uitgebou word,” sluit Kriel af.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is die voortbestaan van gedrukte media van groot belang vir die oorlewing en groei van enige taal. “Digitale media het dikwels ’n kortstondige leeftyd en wanneer later navorsing gedoen word oor die inhoud of die taalgebruik is dit dikwels moeilik vindbaar of kon die feite intussen gewysig geword het. Om dié redes is dit, veral vir ’n taal wat onder druk verkeer soos Afrikaans, noodsaaklik dat beide formate behou moet word.”

Die uitvoerende hoof van die Afrikaanse mediahuis Maroela Media, Susan Lombaard, het intussen ook haar skok uitgespreek oor die bewerings. “Hoewel Maroela Media en dié publikasies binne die medialandskap in kompetisie met mekaar is, is mededinging in die mediaomgewing gesond én belangrik ter wille van behoorlike vervulling van die media se waghondrol. Indien die staking van hierdie gedrukte publikasies met hul ryk geskiedenis sou voortgaan, sal dit ’n reuseverlies vir die medialandskap én Afrikaans wees.”

“Ter wille van Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap wat deur ons as mediainstansies bedien word, hoop ek van harte dat hierdie beweerde besluit heroorweeg sal word,” sluit Lombaard af.

AfriForum het intussen vandag ’n petisie van stapel gestuur om vir die behoud van die gedrukte weergawes van Beeld en Rapport te veg. Die publiek kan hul name op die aanlyn petisie voeg ter ondersteuning van die behoud van Afrikaanse gedrukte media. Ondersteun die petisie hier: www.redrapport.co.za.

Soortgelyke plasings