|

AfriForum lê strafregtelike klag teen Kamiesberg-munisipale bestuurder oor watertekort

Die AfriForum-tak in Kamieskroon het op 18 Julie 2022 ’n strafregtelike klagte by die plaaslike polisiekantoor ingedien teen Rufus Beukes, die munisipale bestuurder van die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit. Dit volg nadat Garies en Kamieskroon al vir meer as nege maande waterprobleme ervaar.

Die Kamieskroon-tak het in November 2021 al klagtes ontvang dat daar ’n tekort is aan water in Kamieskroon. Omdat die munisipaliteit by die voorgeskrewe water van 25 liter vir elke persoon in ’n huishouding per dag gehou het, kon daar kon nie ’n saak gemaak word nie. Intussen het daar nog van die boorgatpompe uitgebrand as gevolg van ’n gebrek aan onderhoud en die twee dorpies se krane het leeggeloop.

“Die munisipale bestuurder het al die hulp om die probleem op te los van die hand gewys. Ek het voorgestel om self die pompe uit te haal en te herstel of te vervang, maar Rufus Beukes het gesê hulle sal my arresteer as ek aan die pompe vat,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder vir die Kalahari. AfriForum het al in die verlede boorgate skoongemaak en gehelp om die watertekort in Kamieskroon te verbeter.

“Hierdie voorval is net nog ’n bewys van die algemene munisipale verval wat die Noord-Kaap tans beleef. AfriForum gaan die huidige waterprobleem monitor en aanhou druk op die regering toepas totdat daar ’n oplossing gevind word,” sluit Strauss af.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by AfriForum om sodoende druk op die regering toe te pas om hul grondwetlike plig teenoor die gemeenskap na te kom: SMS “Kamieskroon” na 45344 (R1) om aan te sluit.

Soortgelyke plasings