|

AfriForum stig noodfonds, skenk komberse en matrasse ná Wes-Kaap-oorstromings

Die burgerregteorganisasies AfriForum en Kaapse Forum het vandeesweek hulp verleen aan verskeie gemeenskappe in die Wes-Kaap wat deurgeloop het onder die verwoestende storms en oorstromings wat die afgelope dae wydverspreid in die provinsie voorgekom het.

Op Worcester het die plaaslike AfriForum-tak en Kaapse Forum gister (11 Julie) 150 komberse en 150 matrasse geskenk aan inwoners van dié dorp wie se huise oorstroom het. Inwoners word tans in die Worcester-gemeenskapsentrum gehuisves. Die organisasies gaan hul steun aan die gemeenskap vanaand voortsit met die voorsiening van aandete aan geaffekteerde inwoners.

Intussen is daar ook uitgereik na die inwoners van Kay’s Karavaanpark in die Strand. Nagenoeg 70 inwoners van dié karavaanpark se huise het oorstroom. Om die snerpende koue af te weer is komberse ook aan dié inwoners oorhandig.

’n AfriForum-noodfonds, ten bate van gesinne wat deur oorstromings in die Wes-Kaap ontwrig is, is ook vroeër vandeesweek op die been gebring.

Die Kaap van Storms het hierdie week sy naam gestand gedoen en grootskaalse verwoesting gesaai, maar die krag van die gemeenskap het deur hierdie verwoesting duidelik geword. Inwoners se bereidwilligheid om uit te reik en dié wat die ergste deur die oorstromings geraak is, by te staan, is geweldig bemoedigend en bied aan AfriForum ’n uitsonderlike geleentheid noodverligting te bring na dié mense wat dit die nodigste het,” verduidelik Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum. Sy moedig die publiek aan om die AfriForum-noodfonds te ondersteun om die hulp aan geaffekteerde inwoners verder uit te brei.

Skenkings kan gemaak word in die volgende rekening:

Banknaam: Eerste Nasionale Bank

Rekeninghouer: AfriForum MSW

Bankkode: 261550

Rekeningnommer: 623 498 98 398

Verwysing: WK vloede

Soortgelyke plasings