|

Samewerking tussen gemeenskappe en SAPD nou van kardinale belang – AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum meen die nuutaangestelde minister van Polisie, Senzo Mchunu, toon begrip vir die erns en omvang van die misdaadsituasie in die land, en benadruk dat nouer samewerking tussen gemeenskappe en wetstoepassingsowerhede nou van kritieke belang is om misdaadbekampingsinisiatiewe te laat slaag.

Die organisasie voer voorts aan dat Mchunu se uiteensetting van prioriteite waaraan dringend aandag gegee moet word in die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die stryd teen misdaad ’n belangrike stap in die regte rigting is. Mchunu het gister die prioriteite vir sy portefeulje by ’n mediakonferensie in Pretoria uiteengesit.

AfriForum benadruk dat tyd sal moet leer of Mchunu daad by die woord sal voeg, maar het die minister alle sterkte toegewens en die organisasie se toewyding tot samewerking met wetstoepassingsowerhede herbevestig.

“AfriForum se 177 buurt- en plaaswagstrukture het op grondvlak uitstekende samewerking met die SAPD en ons sal aanhou om hierdie verhoudinge te bevorder. Ons sien ook uit daarna om saam met ’n Polisieminister te werk wat self ook die klem op samewerking lê,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Volgens Broodryk sal AfriForum egter nie wegskram daarvan om enige onbekwaamheid, korrupsie of politieke inmenging in die SAPD aan die groot klok te hang en te beveg nie. “Ons sal steeds ons pogings verskerp om gemeenskappe op te lei en toe te rus om na hul eie veiligheid om te sien. Ons wens die minister alle sterkte toe met die enorme taak wat voor hom lê,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings