|

Gratis testamentvoordeel vir AfriForum-lede

AfriForum-lede kwalifiseer nou vir ’n gratis testamentvoordeel. Dit is danksy die stigting van ’n nuwe AfriForum-maatskappy – AfriForum Besigheid – wat onder meer spoedige en korrekte bereddering van boedels behartig.

“Enige persoon met bates moet ’n testament hê. Die testament bepaal hoe bates ná ’n persoon se afsterwe onder begunstigdes verdeel moet word,” verduidelik Francois Smit, hoof van Hulpbronne by AfriForum.

Volgens Smit is ’n testament ongetwyfeld een van die belangrikste dokumente wat ’n persoon in sy of haar lewe gaan opstel. Daar is nie ’n wet wat ’n mens verplig om ’n testament op te stel nie, maar daar is wel wetgewing wat bepaal hoe ’n boedel beredder moet word indien die oorledene nie ’n testament nagelaat het nie. Dit kan op sigself tot struwelinge lei wanneer ’n afgestorwe persoon se bates verdeel moet word.

“Mense maak baie keer die fout om te dink dit is ’n dokument wat uit die graf regeer en dan bly belangrike elemente in die beplanning van die dokument dikwels agterweë. Eenvoudig gestel, ’n testament moet uiteensit hoe ’n mens se bates verdeel moet word. Vir ouers met minderjarige kinders is dit ook belangrik om seker te maak voogde word vir hierdie kinders aangestel,” verduidelik Smit.

Laasgenoemde verwys na ’n dokument wat aandui wat moet gebeur as ’n persoon kunsmatig aan die lewe gehou word. Die dokument stipuleer ook wie die persone is wat moet getuig oor die toestand van die pasiënt en ook wat hul ervaring moet wees.

Aangesien ’n mens nie weet wanneer jou laaste dag gaan wees nie, moet jy voorberei asof dit vandag kan wees, gaan Smit voort. Hy noem dat daar byvoorbeeld ’n dokument saam met die testament gestoor kan word waarop wagwoorde vir rekeninge en dies meer aangeteken is om aan ’n betroubare persoon toegang tot sekere platforms te bied.

“Die testament word aangebied deur ’n elektroniese stelsel wat toesien dat die testament dadelik ná voltooiing van al die toepaslike inligting per e-pos aan die testateur of testatrise gestuur word. Dit is ’n eenvoudige proses en, indien die persoon wat die testament versoek alle nodige inligting byderhand het, sal dit binne 15 minute voltooi kan word. Die inhoud en bewoording van die testament is deur professionele persone opgestel en in stand gehou, en die dokument sluit onder meer ook ’n lys van sake in wat die testateur of testatrise in gedagte moet hou en wat by die testament gestoor moet word,” sê Smit.

Besoek die https://afriforum.co.za/ledevoordele/ en klik op die testamentvoodeel-skakel om meer uit te vind.

Soortgelyke plasings