|

Dihlabeng munisipale bestuurder in hegtenis ná AfriForum-ingryping

Die munisipale bestuurder van die Dihlabeng-munisipaliteit, Busa Molatseli (53), en mnr. Tefo Warnic Montsitsi (51), direkteur van die Zero Tolerance Veiligheidsmaatskappy, is elk op borgtog van R10 000 vrygelaat nadat hulle gister in die landdroshof in Kroonstad op aanklag van tenderbedrog en korrupsie verskyn het.

Hulle is Maandag in Bethlehem deur die Valke gearresteer. Hulle is op streng borgvoorwaardes vrygelaat en moet weer op 8 Augustus in die hof verskyn. Hul arrestasie volg na volgehoue druk deur AfriForum.

Die aanklagte teen hulle hou verband met bewerings dat rekenkundige en munisipale amptenare van die Dihlabeng-munisipaliteit en die Moqhaka-munisipaliteit tussen Augustus 2016 en November 2018 tenderprosesse in hul guns beïnvloed het. Die Zero Tolerance maatskappy het glo veiligheidsdienste aan die munisipaliteite gelewer. Die dienste is glo bekom sonder om die nodige voorsieningskettingsbestuurprosesse ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur te volg. Dit het tot die onregmatige en vrugtelose besteding van meer as R35 miljoen gelei.

Die polisie het in ’n verklaring gesê nog arrestasies kan volg.

Morné Mostert, hoof van plaaslike regering by AfriForum, en Isolde Laesecke, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, het in 2017 vier strafregtelike klagtes teen amptenare en kontrakteurs van die munisipaliteit by die Valke ingedien. ’n Privaat ondersoekbeampte is gehuur om die inligting te ondersoek nadat verskeie fluitjieblasers na vore gekom het. Hierdie ondersoeke het onder meer aangedui dat tenders onwettig aan kontrakteurs toegeken is en talle uitbetalings is aan onreëlmatige fakture gemaak.

 

“Ons is dankbaar dat die gereg ná twee jaar se ondersoeke seëvier. Ons is vyf dorpe – Bethlehem, Clarens, Fouriesburg, Paul Roux en Rosendal –  wat baie swaarkry weens die korrupsie in die munisipaliteit. Hierdie arrestasies is ’n groot sukses vir AfriForum en hierdie dorpe,” sê Laesecke.

“Hierdie suksesse skep hoop vir alle gemeenskappe. Dit is weer eens ’n bewys van wat ons as gemeenskappe en AfriForum kan bereik as ons saamwerk. Ons sal aanhou om korrupsie en wanbesteding te beveg,” sê JP Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.

Wees deel van die oplossing en raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag betrokke: SMS jou dorp se naam na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings