AfriForum-tak speel klaar met vyf veldbrande in Vanderbijlpark

Vyf veldbrande, een uitsonderlike span. Dít is hoe Julie tot dusver vir AfriForum se Vanderbijlpark-tak opgesom kan word nadat vrywilligers wat by hierdie tak betrokke is, binne slegs twee dae vyf veldbrande suksesvol geblus het. Voorlopige inligting dui daarop dat al vyf hierdie brande met opset gestig is.

Die eerste twee brande wat geblus is, het op Donderdag 4 Julie uitgebreek. Die eerste langs die R47 naby Sasolburg en die tweede op die Centurionsterrein in Vanderbiljpark.

Die tweede vlaag veldbrande het op Sondag 7 Julie plaasgevind. Die Vanderbijlpark-span is omstreeks 14:00 na die eerste brand ontbied wat langs die R59 by Vaalpark aangemeld is. Hier het die Vanderbijlpark-span kragte saamgesnoer met boere uit die omgewing en AfriForum se Sasolburg-tak om dié brand te blus.

Hierna is die Vanderbijlpark-span uitgeroep na nóg ’n brand, hierdie keer na ’n veldbrand wat nagenoeg 15 km daarvandaan, by Kolomaka Investment & Services in die Stefanopark-landbouhoewes langs die R42, ontstaan het. Dié brand het veral ’n risiko ingehou aangesien chemikalieë op die perseel gestoor word. Die span, gemeenskapslede en verteenwoordigers van VRU kon egter daarin slaag om die brand teen 17:30 finaal te blus.

Die uitgeputte brandspan se dagtaak was egter ná die Kolomaka-brand steeds nie voltooi nie en teen omstreeks 18:00 is hulle uitgeroep om ’n veldbrand by die Hippo Creek-skietbaan te blus. Die vuur hier kon egter spoedig en sonder groot skade onder beheer gebring word.

Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek, toon die Vanderbijlpark-tak ongekende deursettingsvermoë en durf in die werk wat hulle aanpak. “Brande is uit die aard van die saak gevaarlik, maar tog skroom hierdie vrywilligers nie om die taak te pak en boonop, in diens van die gemeenskap, tyd saam met hulle gesinne af te staan nie. Hul onbaatsugtige werk vir die gemeenskap is nou juis te midde van hierdie droë winter se brandseisoen nie net uitsonderlik nie, maar ook uiters noodsaaklik,” benadruk Blignault.

Bly só veilig tydens ’n veldbrand

Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, bied die volgende raad rakende veiligheid tydens veldbrande:

  • Jou veiligheid eerste. Onthou, veiligheid is altyd die topprioriteit tydens ’n veldbrand. Bly kalm en tref gepaste voorsorgmaatreëls.
  • Elke eienaar moet ’n redelike poging aanwend om te probeer voorkom dat die brand na die bure versprei.
  • Meld die veldbrand so gou moontlik aan by die nooddienste, brandbeskermingsvereniging en bure.
  • Kommunikasie: Wees altyd bewus van wat die brand doen. Dit kan gedoen word deur middel van jou plaaslike tweerigting-radiostelsel of ander sosialemediagroepe.
  • Diere: Maak seker dat jou diere veilig is.
  • Bly in die swart: Tydens brandbestryding moet jy altyd in die swart (dele wat reeds gebrand het) bly om veilig te wees.
  • As jy vasgekeer is: Gebruik jou kommunikasiestelsel om mense te laat weet wat gebeur, en meld jou ligging. As dit moontlik is, gebruik ’n lig om mense te help om jou te kry.
  • Gebruik ’n N95-masker om deeltjies te verwyder uit die lug wat jy inasem.
  • Bly gehidreer: Drink baie water of isotoniese koeldrank om gehidreer te bly en jou liggaam te help om die hitte die hoof te bied.

Soortgelyke plasings