|

Lichtenburg-tak takel slaggate, herstel meer as 200 slaggate in minder as ’n maand

AfriForum se Lichtenburg-tak het vanaf 27 November tot 22 Desember vyf groot slaggatprojekte aangepak waarin nagenoeg 40 ton teer gebruik is om meer as 200 slaggate te herstel.

Vanaf 27 November tot 9 Desember is tien ton teer gebruik vir die herstel van 47 slaggate op die hoek van Daniël- en Scholtzstraat, terwyl ’n verdere tien ton teer vir die herstel van 73 slaggate in Le Rouxweg gebruik is. Voorts is Bantjesstraat ook opgeknap toe ’n blok van 194 mmet nóg tien ton teer herstel is.

Van 11 tot 15 Desember is 64 slaggate in Buchananstraat herstel met 150 sakkies teer, en kort voor Kersfees is daar van 18 tot 22 Desember gewerskaf om 52 slaggate met 200 sakkies teer in Nelson Mandelarylaan te herstel.

Dié projekte bou voort op die Lichtenburg-tak se uiters suksesvolle slaggatprojek wat gedurende 2023 ongekende vordering gemaak het met die herstel van slaggate in Lichtenburg, benadruk Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot Marico. Gedurende Oktober alleen is ’n totaal van 61 ton warm teer gebruik om nagenoeg 1 464 m2 se slaggate in dié dorp te herstel.

“Hierdie vyf projekte is weereens ’n bewys daarvan dat as die gemeenskap saamstaan, paaie in Lichtenburg herstel kán word,” sê Pine Pienaar, slaggatprojekleier in Lichtenburg.

“Wanneer ’n gemeenskap saamstaan kan ons ’n onmiddellike verskil sien. AfriForum bedank elke lid en besigheid wat betrokke is by hierdie projek, want sonder die gemeenskap sou ons nie hierdie verskil kon bewerkstellig nie,” sê Viljoen.

Intussen meen Viljoen wag daar groot werk op dié tak om in 2024 die sukses van die projek voort te sit. “Daar wag nog baie werk op ons, maar ons sal aanhou om deur hierdie projek die veiligheid van die dorp een slaggat op ’n slag te verbeter,” meen Viljoen.

AfriForum se Lichtenburg-tak bedank NWK vir die skenking van teer en bitumen sowel as vir die beskikbaarstelling van ’n snymasjien en roller vir gebruik in die projek. Die tak bedank ook die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit vir die skenking van grys en teer sowel as LTX Teerprojek vir hul skenking van teer.

Nomineer vandag nóg ’n “gat in die pad” in Lichtenburg

Plaaslike ondernemings en gemeenskapslede word uitgedaag om deur middel van die skenking van teer ook by die Lichtenburg-tak se slaggatprojek betrokke te raak en terselfdertyd spesifieke strate vir herstelwerk te nomineer.

Die tak moedig ook Lichtenburgers aan om aan te sluit by AfriForum se Lichtenburg-tak en sodoende op verskeie maniere ’n positiewe verskil in dié gemeenskap te maak. Besoek www.afriforum.co.za en sluit aanlyn aan, of kontak die Lichtenburg-takvoorsitter, Steyn Kearny, by 082 803 3628 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings