|

AfriForum loods #MyKrag-veldtog; vra reusemobilisering van individue en ondernemings

AfriForum loods vandag sy #MyKrag-veldtog ná die aankondiging dat ondernemings en huishoudings aangespoor word om sonkrag te installeer en dit aan die netwerk te koppel. Die veldtog vra ’n mandaat dat AfriForum en sy dienstemaatskappy, Pionier, namens huishoudings en ondernemings met die pas gestigte Energiekrisiskomitee sowel as met Nersa kan onderhandel oor regulasies vir privaat kragopwekking, verkope aan die kragnetwerk en tariewe vir verkope.

“Dit is krities belangrik om die skrefie vir privaat kragopwekking en lewering wat pas oopgegaan het ten volle oop te beur sodat Suid-Afrika uit die knellende greep van die energiekrisis verlos kan word. Daarvoor het die regering, ten laaste, besef dat meer privaat kragopwekking nodig is. Huishoudings en ondernemings sal ’n kernrol speel om gemeenskappe weer kragselfstandig te maak,” sê Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum.

AfriForum doen ’n beroep op sy lede en die publiek om in massas deel te neem aan hierdie belangrike veldtog. “Dit is nou die tyd om onderhandelinge en skakelgeleenthede met die Energiekrisiskomitee ten volle te benut, sodat werklike hervorming van die energiebestel kan begin. Die regering moet verstaan hoe ernstig belastingbetalers oor ’n nuwe energiebestel is,” verduidelik Kruger.

“AfriForum, sy dienstemaatskappy, Pionier, en ons kapitaalvennote werk reeds hard aan betroubare en beskostigbare energieoplossings vir huishoudings en klein ondernemings, sowel as aan grootskaalse lewering van krag as ’n onafhanklike kragprodusent,” voeg Kruger by.

Met die #MyKrag-platform skep AfriForum die geleentheid vir individue en ondernemings om:

  • AfriForum ’n mandaat te gee vir skakeling met die Energiekrisiskomitee en Nersa;
  • deurlopend inligting en terugvoer oor die vordering met die proses te bekom;
  • inligting te bekom oor die proses van registrasie vir verkope aan die netwerk wanneer dit vasgestel is;
  • die behoefte te bepaal vir sonkrag en sonkrag-installasie;
  • die behoefte te bepaal vir lewering in die netwerk; en
  • vrae, voorstelle en kommentaar te lewer.

AfriForum skep terselfdertyd die geleentheid vir geakkrediteerde diensverskaffers om hul besonderhede aan Pionier te verskaf vir toekomstige gebruik.

Soortgelyke plasings