|

Kimberley-tak blaas weer nuwe lewe in Burger-monument

AfriForum se Kimberley-tak het onlangs in samewerking met die Rapportryerbeweging, die Voortrekkers, Landsdiens en lede van die publiek die edele taak aangepak om die Burger-monument in Magersfontein skoon te maak. Die span, bestaande uit 28 vrywilligers, het rommel by die monument opgetel, onkruid verwyder, gras gesny en bome gesnoei. Ná drie ure se werk het die span ses sakke rommel bymekaar gemaak en weggery. Die monument is in die verlede al ook deur die tak skoongemaak.

“Hierdie inisiatief bring nie net hulde aan die verlede nie, maar dien ​​ook as ’n herinnering oor die belangrikheid van die behoud van Afrikaner-erfenis. Die deelname van soveel verskillende groepe en gemeenskapslede weerspieël ’n kollektiewe verbintenis om eerbied te betoon aan diegene wat hul lewens tydens die Magersfontein-veldslag opgeoffer het,” sê Lize-Mari van der Linden, distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die Burger-monument herdenk diegene wat tydens die Slag van Magersfontein tydens die Anglo-Boereoorlog op 11 Desember 1899 gesneuwel het. Die Boere het hiertydens ’n beslissende oorwinning oor Brittanje behaal. Ongeveer 1 000 Britse soldate is in dié veldslag gedood of gewond. Die terrein is ook die finale rusplek van verskeie dapper individue uit uiteenlopende agtergronde, insluitend Adriaan de la Rey, die oudste seun van generaal J.H. de la Rey, ’n Franse kolonel, vrywilligers van Skandinawië, ’n Britse soldaat en ’n verpleegster genaamd Combrink.

“Dit is prysenswaardig dat AfriForum se Kimberley-tak die verantwoordelikheid aanvaar het om hierdie geskiedkundige baken in stand te hou en te bewaar. AfriForum sien uit om in die toekoms hande te vat met gemeenskappe en nog só inisiatiewe van stapel te stuur.”

Soortgelyke plasings