|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum se Moot-tak hou gemeenskapsaksie

AfriForum se Moot-tak het in samewerking met die Riviera Huiseienaars-, Inwoners- en Besigheidsorganisasie (Rhibo) op 20 September 2019 ’n stuk grond op die hoek van Annie Bothalaan en Viljoenstraat in Riviera geteer. Dít volg nadat die tak die afgelope tyd talle klagtes ontvang het oor mense wat alkohol op straat gebruik. Dié aksie vorm ook deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog.

Gemeenskapslede het gehelp met die verwydering van struike op die stuk grond waar mense geskuil het om alkohol te gebruik; die stuk grond kan dus nou nadat dit geteer is vir parkering gebruik word.

Volgens Werner Schultz, voorsitter van AfriForum se Moot-buurtwag, is inwoners en sake-eienaars in daardie omgewing uiters positief oor hierdie inisiatief. “Die inwoners en eienaars is baie dankbaar aangesien diegene wat gewoonlik daar alkohol gebruik het nou na ’n ander gebied geskuif het.”

AfriForum se Moot-buurtwag het ook die afgelope tyd sigbaarheid in dié strate verhoog om sodoende druk op alkoholgebruikers toe te pas om na ’n gebied te skuif waar die gemeenskap nie geraak word nie.

Volgens Schultz sal AfriForum aanhou om soortgelyke aksies in die gemeenskap te dryf om ’n standpunt te stel dat hierdie gedrag nie in die Moot geduld sal word nie. “Mense wat alkohol op straat gebruik lok ander probleme na die gebied wat ’n negatiewe invloed op die gemeenskap se veiligheid en welstand het. Ons het nie meer lus vir dié tipe probleme in ons gebied nie en ons wil dit hokslaan. Ons sal aanhou om soortgelyke aksies in samewerking met ander instansies te dryf om die misdadigers die omgewing te ontsê.”

“Dié is slegs een van vele veiligheidsaksies wat ons nog gaan aanpak en ons nooi graag die gemeenskap uit om by ons betrokke te raak,” sê Schultz.

Raak vandag nog aktief by dié buurtwag betrokke: SMS “Moot” na 45341 (R1) en dra by tot die positiewe verskil.

Soortgelyke plasings