| |

#VulDieGat: Alberton- en Germiston-paaie gaan van gat tot glad met slaggatprojek

Die AfriForum-takke in Alberton en Germiston het 27 Julie in samewerking met vrywilligers slaggate in Azalea- en Nasturtiumweg in onderskeidelik Alberton en Germiston herstel. Tydens hierdie aksie is sowat 730 kg teer gebruik om 14 slaggate te herstel. Die straatnaam, Azaleaweg, is ook met verf op die pad aangebring.

Hierdie projek volg nadat die Alberton-tak onlangs ’n WhatsApp-groep vir die gemeenskap gestig het om slaggate in hul omgewing te rapporteer. Hierdie inisiatief het vinnig momentum gekry met aktiewe deelname van inwoners en plaaslike veiligheidsmaatskappye.

#VulDieGat is ’n jaarlikse nasionale projek waartydens AfriForum-takke oor die land heen slaggate ter waarde van R1 miljoen in Julie herstel. Die noordstreek, waaronder die Alberton- en Germiston-takke val, het sedert Januarie tot Julie vanjaar R230 850 se slaggate herstel. Altesaam 64,13 ton teer, oftewel 2 565 sakke teer, is in hierdie tydperk vir slaggatprojekte in die noordstreek gebruik.

“Baie paaie in Alberton is in ’n slegte toestand, daarom het die tak besluit om hierdie projek aan te pak om ’n verskil te maak en die verval teen te staan. Hierdie projek het weereens gewys wat ons kan bereik as ons saamwerk. Deur hande te vat en ons hulpbronne te kombineer, het ons ’n tasbare verskil gemaak. Ons sien uit daarna om voort te gaan met hierdie belangrike werk en nooi alle inwoners uit om deel te neem aan toekomstige projekte,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder aan die Oos-Rand.

Die Alberton-tak doen ‘n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by hul gemeenskap en om by die tak aan te sluit. Besoek AfriForum Alberton op Facebook of kontak 081 217 8579 of sluit aan by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings