|

AfriForum eis dringende ingryping van minister by “onveilige” SA-weermagbasisse

AfriForum doen ’n beroep op Angie Motshekga, die minister van Verdediging, om onmiddellik aandag te gee aan kritieke kwesbaarhede wat nasionale veiligheid in gevaar stel. Dit kom te midde van toenemende kommer oor die ernstige agteruitgang van veiligheid by Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW)-basisse. Kwessies soos diefstal, die nienakoming van veiligheidsmaatreëls, onwettige betreding en die algehele verval van veiligheidsinfrastruktuur op basisse is enkele van die sake wat volgens AfriForum indringend ondersoek moet word.

In ’n brief wat AfriForum op 21 Augustus aan die minister gestuur het, beklemtoon die organisasie ’n reeks kommerwekkende mislukkings met betrekking tot veiligheid by SANW-basisse. Daar word spesifiek gefokus op die voortdurende diefstal en veiligheidsoortredings by die Wallmansthal-depot noord van Pretoria – een van die weermag se grootste voertuigdepots in die land. AfriForum beklemtoon ook die dringende behoefte aan verbeterde veiligheidsmaatreëls en versoek die minister om vinnig en beslissend op te tree.

In sy brief vestig AfriForum die aandag op voorvalle van diefstal wat byna elke nag by die Wallmansthal-depot aangemeld word waar individue die perseel onwettig betree om onderdele van voertuie en ander items te steel. Ten spyte van talle klagtes van plaaslike gemeenskapslede aan die militêre polisie, is daar tot dusver min gedoen om hierdie misdadige aktiwiteite te stuit. Die organisasie wys ook in die skrywe op die onlangse brand by die Wallmansthal-depot wat gelei het tot die vernietiging van etlike honderde voertuie. AfriForum eis onmiddellike verbeterings in brandvoorkomingsmaatreëls om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.

Verder wys die brief op die verbrokkelende veiligheidsheinings, onvoldoende toegangsbeheer en die algehele gebrek aan instandhouding by SANW-basisse wat hierdie terreine kwesbaar maak vir ongemagtigde toegang en misdadige aktiwiteite.

AfriForum benadruk ook die belang van behoorlike opleiding en toerusting van veiligheidspersoneel by SANW-basisse en hou vol dat die huidige maatreëls onvoldoende is om militêre bates en personeel te beskerm.

“Die voortdurende veiligheidsoortredings by SANW-basisse, veral by Wallmansthal, is onaanvaarbaar en hou ’n ernstige bedreiging vir ons nasionale veiligheid in. Moenie vergeet dat daar al selfs vuurwapens by weermagbasisse gesteel is nie. Ons doen ’n  beroep op die minister van Verdediging om onmiddellik en beslissend op te tree om hierdie kwessies op te los en om te verseker dat ons militêre terreine voldoende beskerm word,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

AfriForum vra ’n gedetailleerde reaksie van die minister aan waarin die stappe uiteengesit word wat geneem sal word om veiligheid by SANW-basisse te verbeter en verdere voorvalle te voorkom. Die organisasie versoek ook ’n tydlyn vir die implementering van hierdie maatreëls.

Soortgelyke plasings