|

AfriForum weier dat ‘watermafia’ SA se watersekerheid gyselaar hou

Die kriminele sindikate wat verantwoordelik is vir die wydverspreide vandalisme van waterinfrastruktuur in Suid-Afrika kan nie toegelaat word om in ’n waterskaars land te floreer nie, maar die regering se onvermoë om die sogenaamde “watermafia” se onwettige bedrywighede te stuit beteken dat kwesbare gemeenskappe steeds aan hierdie sindikate uitgelewer word. Dít is iets wat nie geduld kan word nie, sê AfriForum.

Terwyl die regering versuim om daadwerklike stappe te doen om noodsaaklike infrastruktuur teen vandale te beskerm, het AfriForum en sy veiligheidsnetwerk reeds vordering in die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gemaak om dié probleem die hoof te bied. Die burgerregteorganisasie het die afgelope paar jaar die Tshwane-metro, wat jaarliks R450 miljoen aan watertenkwaens bestee weens infrastruktuur wat onklaar raak, gehelp om veiligheidskameras by reservoirs op te rig om hierdie broodnodige infrastruktuur teen vandale te beskerm. Met behulp van die kameras is talle vermeende vandale al in hegtenis geneem.

Die sogenaamde watermafia win al vir jare lank miljoene rand van munisipaliteite in deur doelbewus infrastruktuur te beskadig sodat kontrakteurs noodgedwonge aangestel moet word om water aan gemeenskappe te verskaf. Dié winsgewende kontrakte word dikwels met behulp van korrupte munisipale amptenare aan die watermafia toegeken – wat boonop nie skroom om swak gehalte water aan gemeenskappe te verskaf nie.

“Indien die meer as R2 miljard wat die afgelope vyf jaar in Gauteng aan watertenkwaens bestee is gebruik was om infrastruktuur op te knap en teen sabotasie te beskerm, sou dit tot veel meer mense se voordeel gestrek het as die korttermynoplossing wat watertenkwaens verskaf het. Dit sou boonop nie ’n kriminele sindikaat befonds het, wat tans die land se watersektor op sy knieë dwing nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.

Dit is duidelik dat sonder die nodige ingryping gaan die situasie aanhou versleg, daarom doen AfriForum ’n beroep op die Departement van Water en Sanitasie om in samewerking met die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) streng regulasies en goedkeuringsprosesse vir onafhanklike waterdienste, soos die verskaffing van watertenkwaens, te implementeer. “Deur gekeurde maatskappye toe te laat om water aan gemeenskappe te verskaf, kan die regering die korrupte praktyke wat endemies is aan hierdie sektor, uit die weg ruim. Dit is ’n belangrike stap om te verseker dat watervoorsiening op ’n regverdige en volhoubare wyse bestuur word,” sê De Klerk.

AfriForum is ook gerat om ’n konstruktiewe rol te speel om hierdie krisis die hoof te bied. Deur die burgerregteorganisasie se uitgebreide netwerk van meer as 160 takke en buurtwagte landwyd kan AfriForum munisipaliteite help om lekkasies binne die stelsel te identifiseer en op te klaar, waterverliese te verminder en te verseker dat beskikbare hulpbronne doeltreffend aangewend word. AfriForum se buurtwagte kan boonop ’n bykomende bron van beskerming bied in die stryd teen vandale.

“AfriForum staan ​​gereed om saam met gemeenskappe, die privaat sektor en die regering te werk om met volhoubare oplossings vorendag te kom om watervoorsiening te verbeter en watersekerheid te verseker. Deur kragte saam te snoer kan ons die watermafia se ystergreep op die watersektor verslap,” sê De Klerk.

Soortgelyke plasings