|

Naboomspruit-tak woeker voort met volhoubare projek

AfriForum se Naboomspruit-tak in Mookgophong woeker steeds voort met die instandhouding van die dorp se stopstrate as deel van die Ruk-Naboom-Reg-projek, waarby dié tak sedert 2022 betrokke is.

Hierdie tak het op 15 September voortgegaan om padmerke by stopstrate te verf aangesien Mookgophong se stopstrate al vir etlike jare nie geverf is nie. Die tak het reeds 120 liter padverf as skenking van gemeenskapslede en ’n plaaslike kerk vir hierdie projek ontvang, terwyl die tak ook altesaam 140 liter verf aangekoop het vir die projek.

Die Naboomspruit-tak het vroeër ook herstelwerk aan die skuifhek by die dorp se watersuiweringsaanleg gedoen deur die laers in die wiele te vervang. Terselfdertyd is daar ook sweiswerk by die hek gedoen om ’n paal te herstel wat afgeroes was.   

“Die tak help gereeld om diensbaar aan ons gemeenskap te wees soos met die herstel van die stadsraad se grassnyers sodat ons dorp se parke netjies en leefbaar kan wees. Dit sluit in om parte aan te koop, die herstel van die toerusting en selfs die karwei van die groot grassnyers. Inwoners sal onthou dat die Naboomspruit-tak sowat twee jaar gelede instrumenteel was om die begraafplaas in 1ste Straat skoon te maak. Vir hierdie tak is volgehoue diensbaarheid ’n prioriteit,” sê André van der Schyff, die tesourier van AfriForum se Naboomspruit-tak.

AfriForum se Naboomspruit-tak in Mookgophong beplan om verskeie projekte in die komende maande aan te pak en wil graag die gemeenskap uitnooi om saam aan hierdie aksies deel te neem.  Besoek AfriForum Naboomspruit op Facebook vir meer inligting oor toekomstige projekte of kontak Van der Schyff by tesourier.naboomspruit@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings