|

Van parke tot padmerkers én selfs ’n begraafplaas: Só takel AfriForum-buurtspan en -tak aksies in Secunda

Terwyl die laaste stuiptrekkings van winter oor die Hoëveld getrek het, het AfriForum se Teks (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda)-buurtspan en -tak in allesbehalwe ’n winterslaap verval. Nie net het dié buurtspan in Augustus die 60 000 m2 merk vir die totale oppervlakte wat sedert die span se ontstaan in middel Julie skoongesny is, verbygesteek nie, die tak het ook hande gevat met die Hoërskool Oosterland deur verf en teer ter waarde van sowat R6 000 vir opknappingswerk om die skoolterrein te skenk.

Die skoonmaak van groenstroke vorm ’n belangrike deel van die Teks-buurtspan se werk juis omdat die Govan Mbeki Munisipaliteit nie meer dié stroke onderhou nie. Die buurtspan het egter in Augustus hul taak voortgesit met die opruiming van groenstroke in Lombard- en Clarestraat in Secunda. Die totale oppervlak van hierdie twee groenstroke beloop meer as 27 000 m2 en bied, indien dit oorgroei is, skuilplek vir sluipslapers. Die instandhouding van die terrein is daarom van kritieke belang vir veiligheids- en estetiese redes.

Intussen het AfriForum se Teks-tak ook hul instandhoudingswerk by die Secunda-begraafplaas voortgesit ten spyte van vroeëre teenkanting deur die munisipaliteit. Die begraafplaas bestaan uit agt blokke en vroeër vandeesweek is die opruiming van die eerste blok suksesvol afgehandel.

Benewens dié selfdoen-projekte het die tak ook ander bemagtig om in te spring en self opknappingswerk aan te pak. Verf en teer wat aan Hoërskool Oosterland geskenk is, word nou met die hulp van Landsdiensleerders verbonde aan die skool, ingespan vir die instandhoudingswerk van paaie rondom die skool. Dié werk sal nie net die netheid van paaie verhoog nie, maar ook padveiligheid vir motoriste en leerders verbeter. Deur die opknapping van paaie rondom hul skool leer Landsdiensleerders sommer ook om self eienaarskap van hul omgewing te neem.

Volgens Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, is die tak en buurtspan se werk ’n bewys van ’n gemeenskap wat nie langer gaan sit en wag op die munisipaliteit of ander mense om die werk te doen nie, maar eerder self inspring om ’n verskil te maak. “Die Teks-buurtspan sal aanhou met hul harde werk. Ons neem ons dorpe nou terug. Ons sal nie meer wag vir ander mense nie. Ons sal dit self doen!” sluit hy af.

Jy kan ook ’n verskil maak

Woon jy in Trichardt, Evander, Kinross of Secunda? Dan kan jy vandag nog ’n verskil maak. Sluit aan by AfriForum se Teks-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings