|

AfriForum raai ouers aan om kinders so gou moontlik vanaf 15 Junie vir graad 1 of 8 in Gauteng te registreer

Ouers en voogde wat hulle kinders vir graad 1, of 8 vir 2024 wil inskryf in Gauteng-skole moet kennis neem dat die aanlyn registrasieproses reeds op 15 Junie 2023 om 08:00 open. Dié tydperk strek tot en met 14 Julie 2023 om middernag. Dit beteken dat ouers slegs ’n maand tyd het om die inskrywings af te handel. Dit sluit ook ’n langnaweek (16 Junie), en die winterskoolvakansie in, dus moet ouers verkieslik al op 15 Junie registreer om te verseker dat hul kinders in die skool van hul keuse geplaas word.

Aansoeke vir plasing in Gauteng-skole vind vanjaar andermaal slegs aanlyn op die Gautengse Departement van Basiese Onderwys (GDO) se webwerf (www.gdeadmisions.gov.za) plaas.

“AfriForum wil ouers herinner dat hulle veral moet seker maak dat hulle ’n selnommer verskaf wat deurentyd aktief sal bly tot hulle bevestiging ontvang het dat hul kinders wel geplaas is. Plasings sal van 4 September plaasvind en SMS’e aangaande die plasingsaanbod kan enige tyd vanaf dié datum verwag word,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.

’n Belangrike verbetering teenoor 2022 se stelsel, is dat daar vanjaar slegs een aansoekproses is, ongeag of kinders in 2023 binne of buite Gauteng seopenbareskoolstelsel onderrig ontvang. ’n Keuse vir drie tot vyf skole kan uitgeoefen word, met voorkeur vir die eerste drie keuses vir ouers of voogde se woonadres. Verder moet ouers ook hulle moedertaal en voorkeur vir die taal van onderrig aandui.

“Die Gautengse onderwysdepartement het volledige riglyne oor die aansoekproses deur hulle mediakanale bekendgemaak. AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ook ’n podsending waarna ouers kan gaan luister,” sluit Bailey af.

Ouers wat vanaf 15 Junie probleme met die stelsel ondervind, kan AfriForum by onderwys@afriforum.co.za om advies nader.

  • Klik hier vir die dokument wat die inligting in Afrikaans opsom.
  • Klik hier vir die skakel na die podsending.

Soortgelyke plasings