|

Waterkrisis: $1 miljard-lening gaan SA nie uit warm water red nie, maan AfriForum

Stel vierpunt-aksieplan voor

Die Nuwe Ontwikkelingsbank (NDB) se toekenning van ’n $1 miljard-lening aan die Suid-Afrikaanse regering, is ’n reusefout, maan die burgerregteorganisasie AfriForum. Dié lening, wat bedoel is om die konstruksie van water- en sanitasie-infrastruktuur op munisipale vlak te finansier, sal nie die oorsake van Suid-Afrika se dringende waterkrisis die hoof bied nie.

AfriForum benadruk dat alles nou in die stryd gewerp moet word om die land se waterkrisis te takel, maar waarsku dat daar nie net geld na die probleem gegooi kan word in die hoop dat die oorsake van die probleme vanself sal opklaar nie.

Die organisasie stel egter, as deel van ’n vierpunt-aksieplan, voor dat die volgende stappe dringend gedoen moet word om die impak van die waterkrisis te beperk en watervoorsiening in Suid-Afrika weer te herstel:

  1. Verbetering van plaaslike bestuur en aanspreeklikheid
  2. Implementering van opleidingsinisiatiewe en aanstelling van gekwalifiseerde personeel vir water- en rioolaanlegte
  3. Deurlopende monitering en toetsing van watergehalte om te verseker dat dit aan gesondheidstandaarde voldoen
  4. Verhoogde samewerking tussen die regering, gemeenskappe en die privaat sektor 

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, is munisipaliteite se geskiedenis deurspek met bewerings en bewyse van grootskaalse wanbesteding en korrupsie. “Ons erken die noodsaaklikheid van finansiële ondersteuning vir waterinfrastruktuur, maar huidige munisipale vermoëns, doeltreffende bestuur en aanspreeklikheid ontbreek wat waarskynlik sal beteken dat geld uit dié lening bloot in ’n eindelose put gestort gaan word sonder enige werklike verbetering in die waterkrisis,” verduidelik De Vaal.

Munisipaliteite se skuld aan waterrade beloop, volgens syfers wat verlede week deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) aan die parlementêre portefeulje komitee vir Water en Sanitasie voorgehou is, reeds meer as R22,36 miljard. Dié syfer toon duidelik munisipaliteite se onvermoë om verantwoordelike finansiële bestuur toe te pas en benadruk die risiko verbonde daaraan om net geld in te pomp, in plaas daarvan om werkbare oplossings te implementeer, sluit De Vaal af.

Soortgelyke plasings