|

AfriForum versoek Victor Khanye-munisipaliteit om betalingsooreenkomste met Rand water te onderteken

AfriForum het ’n dringende skrywe aan die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit gerig wat die munisipaliteit aanmaan om onmiddellik behoorlike betalingsooreenkomste met Rand Water te onderteken. Die organisasie se bekommernisse spruit uit die onlangse kennisgewing wat aandui dat die Victor Khanye-munisipaliteit se totale skuld aan Rand Water meer as R400 miljoen beloop en dat die munisipaliteit nie daarin kon slaag om behoorlike betalingsooreenkomste met Rand Water te sluit nie. Rand Water dreig nou om die waterdruk teen 17 September met 20% te verlaag wat die gemeenskappe van Delmas, Eloff, Sundra en Rietkol sal beïnvloed.

In die brief wat op 9 September aan die Victor Khanye-munisipaliteit gestuur is, versoek AfriForum om nou saam met die departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) te werk om ’n behoorlike betalingsplan met Rand Water te beding en sodoende te verseker dat kritieke waterdienste ononderbroke bly.

“Die potensiële impak van verminderde waterdruk is verreikend. Plaaslike ondernemings sal aansienlike finansiële verliese in die gesig staar, skole kan gedwing word om te sluit en die alledaagse lewe van inwoners sal ernstig ontwrig word,” meen Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

AfriForum wys ook die Victor Khanye-munisipaliteit daarop dat die huidige manier waarop hy beurtwater toepas as ’n bewys dien dat die gemeenskap se watertoevoer alreeds onder groot druk verkeer. Inwoners kan nie aand na aand sonder water wees nie. Die munisipaliteit se toevoer is só erg onder druk dat kleppe elke aand toegemaak moet word om ander mense ook van water te voorsien.

AfriForum doen ’n beroep op die Victor Khanye-munisipaliteit om verantwoordelikheid te neem vir die regstelling van die huidige finansiële wanbestuur en om te verseker dat proaktiewe stappe geneem word om hierdie krisis spoedig op te los.

Soortgelyke plasings