AfriForum daag OKOSA se rassekriteria uit wat vestiging van Starlink in SA dwarsboom

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag geskrewe kommentaar by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (OKOSA) ingedien waarin die organisasie ’n beroep op OKOSA doen om die streng rassekriteria te laat vaar wat tans die toekenning van ’n Suid-Afrikaanse lisensie aan die satelliet-internetdiens Starlink dwarsboom. 

AfriForum se kommentaar volg in reaksie op die voorgestelde nuwe lisensiëringsraamwerk vir satellietdienste wat tans deur OKOSA ondersoek word en oopgestel is vir openbare kommentaar. AfriForum voer aan dat diskriminerende rassekriteria, in die vorm van streng rasgebasseerde eienaarskapvereistes, uit OKOSA se vereistes vir internetdiensverskaffers geskrap moet word.

Volgens Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge, het net 15 uit die 54 Afrikalande nie ’n tydlyn vir die ingebruikneming van Starlink nie. Starlink is reeds bekendgestel in vier van Suid-Afrika se ses buurlande, naamlik Eswatini, Botswana, Zimbabwe en Mosambiek. Die Starlink-diens sal na verwagting later vanjaar in Namibië en Lesotho bekendgestel word.

Suid-Afrika ondervind ernstige probleme ten opsigte van landelike veiligheid. ’n Noemenswaardige bydraende faktor tot hierdie krisis is onbetroubare of afwesige selfoonopvangs. Standvastige internetverbinding vir onder meer noodkommunikasie en doeltreffende funksionering van veiligheidskameras is byvoorbeeld noodsaaklik vir veiligheid in landelike gebiede. Selfoontorings is boonop ten tyde van kragonderbrekings geneig tot swakker of afwesige sein. 

“Die verbeterde kommunikasievermoë wat Starlink in Suid-Afrika sal bied, sal ’n reusebydrae maak in die voorkoming van misdaad en die verbetering van misdaadreaksietye, veral in landelike gebiede waar selfoonopvangs dikwels onbetroubaar is of glad nie bestaan nie,” gaan Van Zyl voort.

“Deur Starlink op rassegronde in Suid-Afrika te verbied ontneem OKOSA landelike gemeenskappe van ’n betroubare alternatief wat lewens kan red. Hiermee raak Suid-Afrika ten opsigte van toegang tot hierdie nuwe tegnologie, ligjare agter die res van die wêreld, Afrika én Suider-Afrika,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings