|

AfriForum-tak in Bethal werk hard om dorp se trots te herstel

Die AfriForum-tak in Bethal het in Junie verskeie projekte in die dorp aangepak om die dorp se algehele voorkoms en veiligheid te verbeter.

Die tak het saam met die gemeenskap gespan vir lone en toerusting vir die slaggatherstelspan wat besig is om slaggate in die dorp te herstel. Hierdie span het reeds in verskeie strate slaggate herstel waaronder Wicht-, Malherbe-, Kleijnhans-, Tsibitso Sibanyoni- en Blesbokstraat.

AfriForum se eie slaggatspan het ook slaggate gevul in Hoëveldlaan en Van der Stelstraat. Dié span het reeds meer as 200 sakkies teer gebruik vir hierdie projek en beoog om hierdie goeie werk in Julie voort te sit.

Die tak het ook ’n aantal skoonmaakprojekte aangepak. Dit sluit die volhoubare projekte in waarmee die tak reeds besig is in, soos die skoonmaakprojek by die Nestlè-brug se rotstuin in. Die tak het verder ook die area langs die DBV, die sement eilande op die N17 en die hoeke van Vuyisile Ministraat en Naudèstraat, Vuyisile Ministraat en Louis Trichardtstraat en die hoek van Buffelstraat en Davelweg. Die tak het ook ’n reuseprojek aangepak rondom die munisipale werkswinkels en het reeds vier bakkievragte vol vullis verwyder, die gras in hierdie areas word ook binnekort gesny.

Die tak het ook saam met die gemeenskap die Voor jou deur-projek begin op Facebook waar hulle die gemeenskap van Bethal aanmoedig om die omgewing voor hulle eie wonings en ondernemings skoon en netjies te hou om sodoende Bethal ’n beter en skoner dorp vir almal te maak. Hierdie inisiatief het tot gevolg gehad dat inwoners begin het om die randstene op straathoeke te herstel en ook hulle eie skoonmaak-aksies op verskeie plekke in die dorp aangepak het.

“Die feit dat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit bitter min doen om Bethal op te knap en netjies te hou beteken dat die verantwoordelikheid op ons as gemeenskap val om die dorp op te knap sodat dit ’n dorp is waarop ons trots kan wees,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Hoëveld.

Sluit vandag aan by AfriForum se Bethal- tak, SMS “Bethal” na 45340 (R1)

Soortgelyke plasings