Ysterpenlokval
|

Middelburg-tak waak oor berugte N4-hoofweg

AfriForum se buurtwag in Middelburg het onlangs gedeeltes van die N4 gepatrolleer om die toename in ysterpenlokvalle en kapings op dié hoofweg in die kiem te smoor. Altesaam agt buurtwaglede het in vier voertuie vir vier uur lank weerskante van hierdie hoofweg gepatrolleer. Hoewel geen motors ’n ysterpenlokval getref het nie, het die buurtwag talle ander motoriste gehelp wat langs die pad gestaan het. Die buurtwag het in elk van dié gevalle verseker dat die motoriste weer veilig met hul reis kon voortgaan.

“Die doel van dié soort patrollies is om kriminele elemente te ontmoedig om ysterpenlokvalle op paaie te stel. Terselfdertyd word wet en orde op die paaie gehandhaaf, aangesien die buurtwag hegte bande met die plaaslike polisiediens het en enige tyd hulle om hulp kan ontbied,” sê Mark, Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.

Die buurtwag het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die nuwe tweerigtingradio’s te toets wat aangekoop is vir hierdie patrollies. Die radio’s vergemaklik die buurtwag se kommunikasie met mekaar, aangesien dit nie beperk is tot ’n sekere afstand nie en dus enige tyd, enige plek gebruik kan word.

“Die patrollie is net nóg ’n manier waarop AfriForum na die veiligheid van ander omsien. AfriForum se buurtwag in Middelburg neem eienaarskap van die gemeenskap se veiligheid en sal daarom toesien dat hierdie omgewing beveilig word,” sê Salzwedel.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Middelburg-tak en -buurtwag betrokke raak.

Soortgelyke plasings