|

“Staan jou man”: Midvaal-buurtwag ondergaan noodsaaklike handwapenopleiding

Die uitdrukking “staan jou man” het nou ’n heel dieper betekenis gekry by AfriForum se Midvaal-buurtwag. Nagenoeg tien lede van dié buurtwag en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het op Saterdag 28 Oktober opleiding in basiese handwapenhantering ontvang en gefokusde opleiding in die korrekte staanposisies en wapengreep ondergaan.

Dié twee belangrike aspekte van handwapenhantering vorm deel van ’n meer omvattende handwapenopleidingsprogram wat fokus op die sogenaamde sewe basiese beginsels van handwapenhantering. Buurtwaglede word in hierdie program die belangrikste vaardighede rakende onder meer mik, snellerspeling (ook bekend as “slack”) en skootplasing aangeleer.

Die kursus wat uit teoretiese en praktiese afdelings bestaan, is aangebied deur twee van AfriForum se opgeleide skietinstrukteurs, naamlik Pieter Swart (Midvaal-takvoorsitter) en Stephanus Blignault (AfriForum-koördineerder vir die Wesrand en Vaaldriehoek).

Volgens Blignault is die doel van dié opleiding om die bevoegdheid van AfriForum se patrolleerders deurgaans te verbeter. Verskeie uiteenlopende opleidingsessies word deur die loop van die jaar aangebied en help om sodoende te verseker dat buurtwaglede in staat is om volgens die wet op te tree wanneer hulle hul gemeenskappe beveilig.

“Dit is belangrik dat AfriForum se strukture toegerus word met die nodige kennis en vaardighede om ons gemeenskappe te kan help. Hierdie kursus bemagtig lede om paraat op te tree in moeilike omstandighede en dien boonop ook as ’n spanbou-aktiwiteit. Ons moedig ons strukture aan om as ’n groep saam te werk en te leer hoe om potensiële situasies ​​te benader,” sê Blignault.

Die Midvaal-tak moedig die gemeenskap aan om by hul plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak. Klik hier om aan te sluit. Of stuur ’n e-pos aan midvaal@afriforumtak.co.za om die tak te kontak.

Soortgelyke plasings