|

AfriForum se privaat brandweer het kookwater 100 dae

AfriForum se privaat brandweerdiens in Bloemfontein is 100 dae gelede in samewerking met Fire Ops SA op die been gebring en het reeds in hierdie kort tydjie gehelp om verskeie brande te blus. Hierdie nuwe diens het bygedra tot die voorkoming van duisende rande se skade en ’n hond se lewe is selfs gered.

Hierdie brandweerdiens is amptelik op 4 Junie 2024 bekendgestel en het tans nege permanente personeellede. Die diens maak gebruik van nuwe tegnologie met ekstra hoë druk eenhede waarmee brande, insluitend huis-, gebou- en veldbrande, getakel kan word.

“Die regering faal gemeenskappe op verskillende gebiede waarvan brandweerdienste een is. Privaat brandweerdienste is een van die komponente wat by AfriForum se vierde regeringsfeer-standpunt aansluit sodat daar vir ons nageslag ’n toekoms geskep kan word. AfriForum het nege takke en buurtwagte in Bloemfontein en die brandweerdiens is daar gestel om dié strukture te ondersteun,” verduidelik Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

“Hierdie diens is broodnodig veral omdat daar skaars een brandweerstasie uit die vyf in Bloemfontein is wat redelik op peil funksioneer. Dan werk noodnommers dikwels nie of daar is lang wagtye wat veroorsaak dat ’n brand verder versprei en reuseskade aanrig,” sê Cooks.

In een geval het ’n desperate inwoner AfriForum se brandweer ontbied om te help ná 19 oproepe na die Mangaung-brandweer se beheersentrum om die brandweer na ’n huisbrand te ontbied geen reaksie gekry het nie. AfriForum se span was binne minute op die toneel en het die brand spoedig geblus.

Volgens Cooks is dit moeilik om te bepaal hoeveel skade AfriForum se brandweer al gehelp verhoed het, maar dit is waarskynlik etlike duisende rande. Daar was selfs ’n geval waar dié diens ’n gesin se hond gered het.

Enigiemand kan van AfriForum Brandweer se dienste gebruik maak. Wanneer dié brandweer uitgeroep word, sal die persoon ’n rekening ontvang, wat die persoon dan aan hul versekering kan stuur sodat dit vereffen kan word.

”AfriForum-lede in Bloemfontein is outomaties ingeteken vir die diens en dis net nog een van die voordele wat ’n AfriForum-lid ontvang. Mense en ondernemings wat vir die diens ingeteken is, kan ook met hul versekeraars onderhandel om afslag op hul maandelikse premies te beding,” sê Cooks.

Vir meer inligting besoek www.afriforumbrandweer.co.za.

Soortgelyke plasings