|

AfriForum se GOP-insette aan Tswaing-munisipaliteit fokus op instandhouding

Die AfriForum-takke in Delareyville, Sannieshof en Ottosdal het hul voorstelle vir die jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP) by die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit ingedien. Hierdie takke het voorgestel dat die munisipaliteit in die gemelde dorpe op infrastruktuur en instandhouding moet fokus.

Die afgelope jaar het die Tswaing-munisipaliteit nie veel aandag aan die instandhouding van infrastruktuur in Delareyville, Sannieshof en Ottosdal gegee nie. In die GOP spreek die plaaslike AfriForum-takke van dié dorpe hul kommer uit oor die verval van infrastruktuur, veral dié van die waterwerke en rioolwerke.  Die takke beveel aan dat die munisipaliteit dit hul eerste prioriteit maak om die probleme aan die waterwerke en rioolwerke se infrastruktuur te takel, veral in Delareyville waar inwoners soms vir twee weke sonder water sit as gevolg van die swak infrastruktuur. AfriForum stel dus voor dat die munisipaliteit genoeg fondse daarvoor begroot.

Buiten dié probleme, is die vullisterreine in Delareyville, Sannieshof en Ottosdal ook in ’n haglike toestand. Luidens AfriForum se vullisterreinoudit voldoen die vullisterrein in Delareyville slegs aan 26% van die minimum standaarde, terwyl die vullisterreine in Sannieshof en Ottosdal onderskeidelik aan 18% en 16% van die minimum vereistes voldoen.  Die takke het ook groot kommer hieroor uitgespreek en voorgestel dat die munisipaliteit fondse begroot om die vullisterreine weer op standaard te kry. Daar is ook kommer uitgespreek oor die huidige onwettige vullisstorting waar daar nie teen opgetree word nie.

Die takke vra ook dat die munisipaliteit genoeg fondse begroot vir die herstel van slaggate en die instandhouding van paaie. Hierdie drie dorpe se paaie is in ’n uiterse swak toestand en die munisipaliteit spandeer geen fondse om dit te verbeter nie.

Die Tswaing-munisipaliteit moet ook vir die volgende tekortkominge in Delareyville, Sannieshof en Ottosdal begroot:

  • Instandhouding van die begraafplase.
  • Ingryping by die swak toestand van die wildkamp by Delareyville wat talle ongelukke veroorsaak.
  • Instandhouding van die elektriese netwerk.

AfriForum vereis ook dat die munisipaliteit kwartaallikse vergaderings met AfriForum hou om die kwessies se vordering te bespreek.

“Die GOP is ’n ideale geleentheid om die takke se kommentaar en voorstelle oor die begroting uiteen te sit. Dit gee gemeenskappe die geleentheid om hul kommer binne die munisipaliteit uit te spreek maar gee ook die geleentheid vir die munisipaliteit om te sien waar die gemeenskap probleme ervaar en om daardie probleme dan op te los. AfriForum sal aanhou druk op die munisipaliteit toepas om te verseker dat hulle aandag aan die probleme gee en hul grondwetlike pligte nakom,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig en te verbeter: Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings