|

AfriForum appelleer teen “Kill the Boer”-dreunsang

AfriForum se saak in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein is vandag aangehoor oor die sing van die dreunsang “Kill the Boer”. Die Gelykheidshof in Johannesburg het verlede jaar bevind dat die sing van die lied nie haatspraak is nie, maar AfriForum het ’n sterk saak dat dit wel is.

Wrede plaasaanvalle het ’n alledaagse verskynsel in Suid-Afrika geword en dis veral wit boere wat geteiken word. ’n Onlangse aanval op ’n egpaar van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal was orals in die nuus. Vier aanvallers het vroegoggend op 17 Augustus Tim Platt en sy vrou, Amanda, in hul plaashuis aangeval ná hulle ’n sekuriteitshek oopgebreek het.

“Ek het geskree ‘just go!’ en hy het oor die deur geleun en my gegryp … my op die arm met een of ander voorwerp geslaan toe trek hy my só hard terwyl hy skree ‘Kill the Boer, kill the Farmer’! Ek kon daarin slaag om van sy greep los te kom en het weggehardloop om die alarm te aktiveer maar tevergeefs! Hulle was genadeloos en aanhoudend – niks het hulle afgeskrik nie, nie eers die alarm nie en ook nie die feit dat ons terugbaklei het nie,” sê Amanda.

Amanda is met ’n loodpyp geslaan en met ’n boutsnyer gesny en selfs met ’n spies gesteek. Terwyl haar man nog besig was om teen die aanvallers te baklei, het sy ontsnap en gewapen teruggekeer om haar man te red. Met haar terugkeer het die aanvallers reeds gevlug.

Die aanval op die egpaar kom kort ná Julius Malema, leier van die EFF, ’n vol stadion ondersteuners by dié party se tiende verjaardagviering in die sing van die dreunsang “Kill the Boer” gelei het. In sy boek Kill the Boer het Ernst Roets tot die gevolgtrekking gekom dat plaasaanvalle toeneem ná die dreunsang prominent êrens gesing was.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregteorganisasie sal die stryd teen die sing van “Kill the Boer” enduit voer. “AfriForum het ’n sterk saak en dis ondenkbaar dat die Suid-Afrikaanse howe hierdie haatspraak toelaat terwyl daar steeds plaasaanvalle is. Ons sal die sing van ‘Kill the Boer’ tot in die hoogste hof in Suid-Afrika beveg en ook internasionaal ons saak stel indien dit nodig is.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

AfriForum volg ’n driebeenstrategie vir die veilige voortbestaan van veral minderheidsgroepe aan die suidpunt van Afrika waarvan hofsake een is. Die ander twee bene is die uitbouing van veiligheidstrukture soos buurtwagte waarvan AfriForum reeds 168 regoor die land het en die derde been is die bevordering van wedersydse respek tussen verskillende kultuurgroepe.

Malema verskyn weer volgende week in die Streekhof in Oos-Londen waar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hom ná volgehoue druk van AfriForum vervolg vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude omgewing. ’n Video het kort ná die EFF se vyfde verjaardagviering die lig gesien waarin dit lyk of Malema ’n vuurwapen in die lug afvuur. Getuienis word nog in hierdie saak aangehoor.

Uitspraak is voorbehou in die haatspraaksaak in Bloemfontein.

Soortgelyke plasings