|

AfriForum se Bethal-tak vul slaggate

Die AfriForum-tak in Bethal het op 3 Junie 2020 slaggate in Buffelstraat opgevul nadat inwoners van daardie omgewing saam met AfriForum gewerk het om dié straat voor die staat van inperking voor te berei vir die herstelwerk. Die dreineringslote is skoongemaak en gate is op daardie tydstip met doleriet gevul.

Die tak het verseker dat die nodige beskermende drag aan werkers en vrywilligers verskaf is voordat daar met die herstelwerk begin is. Die straat is vanaf Davelweg tot by Springbokstraat opgevul.

Nóg slaggate is naby die Silwerjare-tehuis vir bejaardes opgevul sodat nooddienste vinniger by die tehuis kan uitkom tydens noodgevalle. Dit is deels voltooi deur ’n kontrakteur wat AfriForum betaal het, asook deur taklede self.

“Ná meer as 60 dae by die huis kan ’n mens voorwaar die agteruitgang in Bethal sien. Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit versuim sy plig teenoor inwoners. Ons neem egter verantwoordelikheid vir die dorp en sal opknappingswerk self doen,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Aandag word ook geskenk aan dele van die N17 wat deur Bethal loop en die gras langs die pad word stelselmatig korter gesny. Die rotstuin by die Nestlé-driehoek is ook onlangs skoongemaak nadat geen instandhouding van die dorpstuine tydens die inperking plaasgevind het nie. Taklede het gereël dat die onkruid uitgetrek en weggery word.

Soortgelyke plasings