AfriForum bekommerd oor 38 myne sonder waterlisensies 


AfriForum het vandag ’n skrywe aan Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, gerig nadat die departement van water en sanitasie (DWS) dié burgerregte-organisasie ingelig het dat 38 myne tot onlangs toe sonder waterlisensies gefunksioneer het. 
Dít volg nadat AfriForum ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) gebring het om die DWS te verplig om inligting rakende die aantal myne wat sonder waterlisensies myn, bekend te maak.
Volgens die Nasionale Waterwet, 1998 (wetno. 36 van 1998) is die nasionale regering die oorhoofse bewaarder van en verantwoordelike gesag vir waterhulpbronbestuur in Suid-Afrika. Dit sluit die billike toewysing en voordelige gebruik van water in openbare belang in. Daarom kan ’n persoon of entiteit slegs daarop geregtig wees om water te gebruik indien dié gebruik ingevolge hierdie wet toelaatbaar is.

“Dit is onaanvaarbaar dat die DWS myne toelaat om vir jare lank sonder geldige waterlisensies te myn. Wanneer myne waterwette verontagsaam, het dit ’n negatiewe uitwerking op waterhulpbronne en dit is iets wat Suid-Afrika as waterskaarsland nie kan bekostig nie,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

Die burgerregte-organisasie het onder meer in die skrywe versoek dat die volgende bekend gemaak word:

  1. Die stappe wat die DWS geneem het om ongemagtigde mynbedrywighede te voorkom;
  2. Die stappe wat die minister in plek het om te verseker dat onwettige mynboubedrywighede dringend aandag geniet deur myne te dwing om onmiddellik vir waterlisensies aansoek te doen; en
  3. Die moniteringsprosesse wat die DWS vir ’n spesifieke myn in plek gaan stel na afloop van die uitreiking van die myn se waterlisensie.

“Die probleem is dat, hoewel daar toepaslike waterwetgewing en -regulasies bestaan, dit nie altyd behoorlik gemoniteer en afgedwing word in die geval van mynboubedrywighede nie,” sluit Boshoff af.

SMS jou naam na 45354 (R1) om AfriForum se aksie te ondersteun.

Soortgelyke plasings