AfriForum en LUR span saam in stryd teen misdaad


AfriForum en die KwaZulu-Natalse departement van gemeenskapsveiligheid span nou saam in die stryd teen misdaad in dié provinsie.
Verskeie sprekers, onder andere Thomas Mxolisi Kaunda, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in KwaZulu-Natal, het verlede week ’n voorlegging aan gemeenskapslede van Durban gedoen om AfriForum se Projek Nehemia bekend te stel. Projek Nehemia is van stapel gestuur om ’n platform te skep waar gemeenskappe, owerhede en ander rolspelers teen misdaad kan saamwerk en projekte teen misdaad loods.

“Dit is belangrik dat mense tegnologie begin inspan om Suid-Afrika te beveilig en weer hoop te vestig. Samewerking tussen die relevante rolspelers sal ook ons kans verhoog om hierdie oorlog teen misdaad te wen,” sê Roland de Vries, voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër.

In sy toespraak het Kaunda sy samewerking met AfriForum en sy ondersteuning van Projek Nehemia bevestig.

“Dit is AfriForum se ideaal om hierdie projek regoor die provinsie te implementeer en ons is opgewonde oor die ondersteuning wat ons tydens al ons gemeenskapsbesoeke kry,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Kontak Eugene van Aswegen by 076 427 1757 indien jy ’n tak wil stig of by Projek Nehemia se veiligheidstrukture wil betrokke raak. Jy kan ook “Buurtwag” na 45267 SMS (R1).

Soortgelyke plasings