|

AfriForum besoek Laerskool Eloff met teenboelieveldtog

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 26 Januarie Laerskool Eloff in Delmas besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig en hulle ook meer oor die gevare van kuberafknouery in te lig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons het reeds byna 200 skole, 120 000 leerders, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers reg oor die land oor afknouery, asook die impak daarvan toegespreek. Deur dié praatjies skep ons  hoop en bring ons bewusmaking van afknouery na skole sowel as gemeenskappe. Ons verskaf dus die nodige kundigheid om afknouery stop te sit,” sluit Bräsler af.

“Boelies is ongelukkig in alle skole, maar sommige boelies, óf boeliegedrag beweeg onder die radar. Daarom is dit belangrik dat al ons leerders met kennis bemagtig word en weet hoe om hulself teen boelies te beskerm. Hulle moet weet wat ’n boelie is, watter tipe boelies daar is, waarom leerders geboelie word, waarom leerders (of volwassenes) boelie, en hoe hulle kan help as ’n leerder, of maat ander boelie. Wanneer ons kinders, én ouers beter oor boeliegedrag ingelig is en dit aanmeld, kan ons dit vinniger takel en die probleem oplos,” sê Louise van Niekerk, hoof van Laerskool Eloff.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings