| | |

AFRIFORUM EN SOLIDARITEIT ONDERSOEK REGSOPSIES OOR RASSISTIESE TOERISMEFONDS

AfriForum en Solidariteit het hul regspanne opdrag gegee om regsopsies te ondersoek nadat pres. Cyril Ramaphosa en Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van Toerisme, die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) bekend gestel het as ’n instelling wat finansiering aan toerismeondernemings in swart besit verskaf. Slegs ondernemings wat minstens 51% swart eienaarskap het, kwalifiseer vir lenings of toelae van dié fonds.

Die fonds van sowat R1,2 miljard het ten doel om skuldfinansiering te bied, om toelae beskikbaar te stel om aandele te bekom en om nuwe projekontwikkeling in die toerismebedryf vir swart entrepreneurs te vergemaklik.

“Die COVID-19-krisis het die regering se ware kleure en rasgedrewe doelstellings ontbloot. Die president het dit duidelik gemaak dat hulle dié fonds wil gebruik om die toerismebedryf te transformeer. Die regering het egter ’n verantwoordelikheid teenoor álle burgers in die land. Dit is ’n skande dat die regering nou reddingsboeie wil gebruik om die mense op die wal te help, terwyl duisende ander besig is om te verdrink,” sê Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum.

“Dit is immoreel om geld aan te wend om nuwe ondernemings en projekte te befonds terwyl bestaande ondernemings in die bedryf dringend hulp benodig weens die ekonomiese krisis wat onder meer veroorsaak is deur die regering se streng COVID-19-regulasies wat op die toerismebedryf toegepas word,” sê Taute.

“Dit is slegs ’n gewetenlose regering wat ’n bedryf ongekende skade berokken deur irrasionele inperkings af te dwing en dan te weier om sekere van die mense in dié bedryf daarvoor te vergoed. Die regering het in effek toerismeondernemings in wit besit nek omgedraai deur feitlik almal te verbied om sake te mag doen, maar dan slegs aan sommiges hulp te verleen om kop bo water te hou. Dit is veragtelik dat die regering die nood van mense in die bedryf as geleentheid gebruik om hul transformasieagenda te dryf. In hul denkraamwerk kan ’n mens selfs die ondergang van ondernemings in wit besit vier, bloot omdat dit tot versnelde herverdeling lei. Ons kan dit eenvoudig nie toelaat nie,” verduidelik Morné Malan, kommunikasiehoof by Solidariteit.

Soortgelyke plasings