|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Terwyl die regering en Eskom steeds sukkel om met werkbare planne vir die kragkrisis in die land vorendag te kom, het AfriForum vandeesweek ’n driefaseplan aangekondig waarby kenners en verskeie ander rolspelers betrek gaan word om ’n einde aan beurtkrag te maak. AfriForum se teenboeliespan het ook die afgelope week ’n paar skole in Gauteng en Mpumalanga besoek. Die protospan in Riversdal het verder gehelp om ’n verdagte aan te keer.

Die energiekrisis in die land is nie net besig om Suid-Afrikaners se alledaagse lewens op alle vlakke negatief te beïnvloed nie, maar ook om die land se ekonomie dood te wurg. Die eerste fase van Projek AfriEnergie, soos die plan bekendstaan, is gemik op korttermynoplossings. ’n Verslag is vrygestel met relevante inligting rondom kwessies soos sonpaneel-installering om meer onafhanklik van Eskom te word.

“Projek AfriEnergie is ’n breë elektrisiteitsplan wat vloei uit die besef dat die staat en Eskom nie meer in staat is om krag aan die land te voorsien nie. Ons kan nie langer toekyk hoe die land weens die kragkrisis tot niet gaan nie. AfriForum gaan ’n rol speel om beleggings en kundigheid bymekaar te bring om na ’n veelheid van oplossings en modelle te kyk,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Fase twee behels dat dorpe, stede en gemeenskappe gehelp word om druk op plaaslike regerings te plaas om hulle vry te maak van elektrisiteit wat deur munisipaliteite verkoop word. Die model wat die private maatskappy Rural Free State in die Mafube-distrik in die Vrystaat met sukses gebruik, sal verder nagevors word. Dié maatskappy het tien jaar gelede die bestuur van elektrisiteit in vier dorpe suksesvol oorgeneem.

Fase drie is die langtermynbeen van die plan waar daar na die moontlikhede van kernkrag en die inspan van kernenergie-oplossings gekyk word. Omvattende navorsing is egter nog hiervoor nodig. Besoek #MyKrag – AfriForum om meer uit te vind.

AfriForum se teenboeliespan het vandeesweek by die Laerskool Swartkop in Centurion, die Laerskool Tuine in Pretoria, die Laerskool Eloff in Delmas en die Laerskool Helderkruin in Roodepoort besoek afgelê. Die doel van die besoeke is om leerders, onderwysers en ouers te help om afknouery hok te slaan. Leerders word ook geleer om te onderskei tussen afknouery en konflik en word oor die gevare van kuberafknouery ingelig.

Die Kaapse kantoor het ’n MiBox-afstandbeheer gekoop vir die Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek in die Strand waarop hulle AfriForumTV geïnstalleer het. Ons Plek bied ’n veilige hawe vir minderbevoorregte kinders waar hulle daagliks kos en onderrighulp ontvang.

AfriForum se Riversdal-protospan het saam met TFR Sekuriteit hulp gebied nadat ’n 75-jarige vrou beroof en verkrag is. Hulle het saam met die SAPD gewerk en die verdagte is ná ’n soektog aangekeer.

Soortgelyke plasings