|

AfriForum besoek skole in Upington met teenboelieveldtog en #DieValFilm

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 22 Augustus 2022 by die Laerskool Oranje-Noord, Op Die Voorpos Primary School en Hoërskool Duineveld in Upington besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig en hulle ook meer oor die gevare rakende kuberafknouery in te lig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons het reeds 160 skole, 120 000 leerders, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers reg oor die land oor afknouery en die impak daarvan, toegespreek. Ons bou deur hoop te skep om skole sowel as gemeenskappe van afknouery bewus te maak en hulle met die nodige kundigheid in staat te stel om afknouery stop te sit,” sluit Bräsler af.

#DieValFilm wat op 10 September 2022, Wêreldselfdoodbewusmakingsdag, bekendgestel word, is ook met die leerders van die Hoërskool Duineveld bespreek. Hierdie film skep bewusmaking rakende boeliegedrag asook selfdood, en dit skep hoop om te wys dat daar ’n ander uitweg is. Vir meer inligting oor die film, besoek www.dievalfilm.co.za.

“Ons vertrou dat ons leerders baie geleer het. Voorpos is ʼn skool wat enige vorm van boeliegedrag ten alle koste wil vermy. AfriForum se gelukbringer, Matteus, het saam kom kuier en dié geleentheid verder opgehelder. Baie dankie AfriForum vir die aanbieding van die interessante praatjie. Ons weet dat dit op vrugbare grond geval het,” sê Carmen Coetzee Op die Voorpos Primary School se sekretaresse.

“Baie dankie AfriForum vir die pragtige boodskap wat ons Rooibye vanoggend ontvang het. Ons streef daarna om ʼn boelievrye skool te wees en daarom het elke Rooiby vandag sy of haar volle wapenuitrusting aangetrek,” sê Sias van Rooyen Laerskool Oranje-Noord se Skoolhoof.

AfriForum wil ook Eric Walker, wat ons gehelp het met ’n voertuig tydens ons toer, van Upington Suzuki bedank.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings