Water
|

AfriForum verwelkom VN-rapporteur se opmerkings oor omgewingsregte

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom die internasionale bewustheid wat dr. Marcos Orellana, die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur vir gifstowwe en menseregte, geskep het oor die regering se opsetlike vertrapping van Suid-Afrikaners se reg op ’n skoon en gesonde omgewing.

Hoewel AfriForum nie direk betrokke was by Orellana se ondersoek oor die omgewing nie, sluit dit aan by die versoek wat AfriForum verlede maand aan Pedro Arrojo-Agudo, die VN se spesiale rapporteur vir menseregte op veilige drinkwater en sanitasie, gerig het om hom te vra om die uiters swak toestand van Suid-Afrika se natuurlike waterhulpbronne en die verval van waterinfrastruktuur regoor die land te ondersoek. AfriForum meen dat die huidige waterkrisis tot die grootskaalse skending van Suid-Afrikaners se reg op toegang tot water en sanitasie lei. AfriForum wag nog vir terugvoer maar glo dat die versoek positief ontvang sal word, omdat die ernstige gebrek aan behoorlike waterbestuur, waaroor AfriForum kommer uitgespreek het, deur Orellana se ondersoek beklemtoon word.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, is die kwessies oor ’n skoon en gesonde omgewing wat Orellana geïdentifiseer het nou verweef met die toestand van Suid-Afrika se waterinfrastruktuur en natuurlike waterhulpbronne. Dieselfde bevindings wat ten opsigte van die skending van omgewingsregte gemaak is, soos dat armes die swaarste deur omgewingsuitdagings geraak word of dat omgewingsoortreders nie deur die regering vasgevat word nie, kan ook ten opsigte van die land se waterkrisis gemaak word. AfriForum is al etlike jare besig met verskeie strategieë en hofaansoeke om besoedeling van die omgewing en waterhulpbronne aan te pak. As gevolg van die regering se traak-my-nie-agtige houding raak hierdie probleme egter net al groter – ’n bevinding wat deur Orellana se ondersoek beaam word.

“Dit is opvallend dat dr. Orellana geskok was om te sien wat die werklike toedrag van sake is. Dit is hoogtyd dat die illusie waaronder die internasionale gemeenskap verkeer – dat Suid-Afrika se oorgang na ’n grondwetlike demokrasie ’n voorbeeld vir die res van die wêreld behoort te wees – heroorweeg moet word. Hy het nou self gesien dat die regering se beloftes oor die omgewing net op papier geld, maar in werklikheid word die Grondwet en internasionale ooreenkomste deur die regering vertrap,” sê De Vaal.

Soortgelyke plasings