|

Mpumalanga se vullisterreine is in haglike toestand

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Nie een van die 22 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is die vullisterreine in hierdie provinsie in ’n haglike toestand. “Dit is duidelik dat geen beheer toegepas word by hierdie terreine nie en dat dit net nog ’n voorbeeld is van die totale agteruitgang van munisipale dienste in ons land.”

Bekker sê die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. “Dit wil voorkom of daar geen doelwit of plan is om op munisipale vlak hierdie dringende probleem op te los nie en sal ons as AfriForum dus met die relevante owerhede kontak maak om die probleem te probeer oplos, dit is ’n absolute skande om te sien hoe van die terreine lyk en dit is onaanvaarbaar dat daar niks aan die probleem gedoen word nie,” sê Arlo van Heerden, distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, en haar span vergader. Uit die vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede. Dit is ’n bewys daarvan dat samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.

Soortgelyke plasings