AfriForum betree bakensaak oor magte van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 26 Mei hofstukke ingedien om as vriend van die hof (amicus curiae) toe te tree by ’n saak wat moet bepaal of die bevindings en aanbevelings wat deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gemaak word bindend is of nie. Die appèlsaak hier ter sprake is South African Human Rights Commission // Agro Data CC & Boshoff, F.G. (Saaknommer: 039/23).

AfriForum voer aan dat die Grondwet asook wetgewing duidelik is dat die SAMRK nie bindende magte het nie en dat ander lande se instellings, wat soortgelyk is aan die SAMRK, ook nie bindende magte het nie. AfriForum se betrokkenheid as vriend van die hof by hierdie saak is om hierdie relevante oorwegings en internasionale gebruike voor die hof te plaas en die hof by te staan om ’n billike en grondwetlike bevinding te maak. As burgerregteorganisasie vervul AfriForum dikwels hierdie rol om die skep van regspraak positief te beïnvloed.

“Vir burgerregteorganisasies soos AfriForum is hierdie tipe debatte rondom die verdeling van magte en die perke van hierdie mag van instellings soos die SAMRK van groot belang. Dis opwindend om te kan bydra tot só ’n bakensaak met sulke verreikende implikasies,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings