|

AfriForum sal rassetransformasie van gemeenskapsbehuisingskemas met alle mag beveg

Mmamoloko Kubayi, minister van Menslike Nedersettings, beplan rassetransformasie vir privat dienslewering by gemeenskapsbehuisingskemas wat onder meer deeltitel-komplekse, huiseienaarsverenigings en aftree-oorde insluit. AfriForum is sterk gekant teen só ’n rasseverandering en sal die proses aandagtig moniteer en beveg, indien nodig.

Kubayi beplan dié rassetransformasie omdat gemeenskapsbehuisingskemas ’n reuse-bydrae maak tot die ekonomie. Altesaam 27% van alle residensiële eiendomme in Suid-Afrika is deel van gemeenskapsbehuisingskemas, daarom bied hierdie skemas groot geleenthede vir privaat veiligheid-, vullisverwydering- en tuindienstemaatskappye wat op hulle beurt weer baie werksgeleenthede skep. Die minister wil dus swart ekonomiese bemagtiging instel as kriteria vir maatskappye wat dienste lewer aan hierdie skemas, sodat histories benadeelde individue meer van hierdie dienste lewer.

“Mense besef al hoe meer dat hulle hulself moet organiseer in sterk, selfstandige gemeenskappe omdat die regering nie die vermoë of politieke wil het om hulle grondwetlike pligte na te kom in terme van die bestuur van munisipaliteite nie. Die gevolg is dat die hoeveelheid gemeenskapsbehuisingskemas geweldig gegroei het die afgelope paar jaar. Meeste mense is baie ontevrede met die wyse waarop hul plaaslike munisipaliteit bestuur word en probeer om so onafhanklik as moontlik van die munisipaliteit te wees,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

“’n Groot rede waarom munisipale dienslewering swak is, is omdat die verkrygingsproses vir die aanstel van kontrakteurs by staatsinstellings, waar swart ekonomiese bemagtiging ’n groot vereiste is, nie altyd so effektief is nie. Die totale munisipale verval in die land getuig van onbekwame en ongekwalifiseerde munisipale kontrakteurs. Dit is waansin om behuisingskemas, waar dienslewering effektief is, te dwing om van oneffektiewe kontrakteurs soos by munisipaliteite gebruik te maak. AfriForum sal nie skroom om regstappe te neem indien die minister voortgaan met die beplande proses om behuisingskemas te transformeer nie,” sluit Coetzee af.

Soortgelyke plasings