|

Nuwe brandbestrydingstoerusting rus AfriForum se Walker Drive-buurtwag nou selfs beter toe vir “vurige stryd”

Sherwood, ’n gemeenskap wat maar alte goed weet dat droë, warm weer en bos- en veldbrande in die Baai dikwels hand aan hand gaan, kan ’n sug van verligting slaak nadat AfriForum se Walker Drive-buurtwag onlangs nuwe brandbestrydingstoerusting ontvang het. Dié buurtwag werk al lank reeds nou saam met die plaaslike nooddienste om brande, soos dié wat reeds weer sedert die begin van die jaar in dié Oos-Kaapse stad woed, te bestry. Met die ontvangs van twee nuwe 600 liter-Bakkie Sakkies is dié buurtwag nou nóg beter toegerus om brande doeltreffend te bestry.

’n Bakkie Sakkie is ’n innoverende konsep waarin ’n watertenk agterop ’n bakkie gemonteer word en met die hulp van ’n kragtige waterpomp ’n bakkie in ’n doeltreffende brandweerwa omskep.

Hoewel dit nie die Walker Drive-buurtwag se enigste taak is nie, vorm brandbestryding ’n kritieke veiligheidsfokus – en met goeie rede. Vroeër vandeesmaand is aangekondig dat nagenoeg 350 brande binne slegs 13 dae in die Nelson Mandelabaai-metro uitgebreek het. Desember tot Februarie is boonop gewoonlik die droogste maande in dié gebied en tesame met kenmerkende sterk winde is nooddienste en gemeenskapsorganisasies soos die Walker Drive-buurtwag hierdie tyd van die jaar onder geweldige druk om brande te bestry.

Volgens Hannes Oosthuizen, Walker Drive se buurtwagleier, is die buurtwag dankbaar vir die nuwe toerusting wat ontvang is. “Die toerusting was skaars afgelaai toe ons ’n noodoproep oor ’n brand in die Sherwood-omgewing ontvang het,” sê hy.

“Die twee Bakkie Sakkies stel die Walker Drive-buurtwag nou in staat om vinniger op noodoproepe te reageer, brande meer doeltreffend te bestry en die verspreiding daarvan beter te voorkom. Toegang tot die regte toerusting en opgeleide personeel is onontbeerlik vir dié belangrike taak, maar hiermee doen die Walker Drive-buurtwag daadwerklike stappe om die veiligheid van sy gemeenskap te verseker,” benadruk Oosthuizen.

Oosthuizen bestempel boonop die nuwe brandbestrydingstoerusting as ’n “aansienlike belegging in die veiligheid van die gemeenskap”.

“AfriForum se Walker Drive-buurtwag is ’n baken van hoop vir die gemeenskap. Die buurtwag is verbind tot die veiligheid van sy gemeenskap en die aankope van hierdie toerusting beklemtoon hul toewyding. Hierdie toewyding en deurlopende harde werk is ’n inspirasie vir ons almal,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Soortgelyke plasings