|

AfriForum stel gids met wenke vir vuurwapeneienaars bekend

Om ’n wettige vuurwapeneienaar in Suid-Afrika te word, kom met ’n reeks uitdagings. Die proses kan lank en uitgerek raak, maar die uitdagings om ’n vuurwapen te besit hou beslis nie op as ’n mens eers ’n lisensie bekom het nie. AfriForum het vandag tydens ’n sitkamergesprek ’n gids bekendgestel met wenke vir vuurwapeneienaars. Dié gids beantwoord ook vrae wat gereeld oor vuurwapens gevra word.

“Daar was onlangs verskeie voorvalle waar lede van die polisie wettige vuurwapeneienaars by padblokkades geteister het omdat hul in die besit van vuurwapens was wat hulle natuurlik wettiglik mag hê. Daarom moet vuurwapeneienaars ingelig wees oor wat hul regte is sodat hulle nie geviktimiseer word deur oningeligte of kwaadwillige polisiebeamptes nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid

Die gids begin as’t ware by die begin deur te verduidelik wat die wet as ’n vuurwapen definieer, hoe om vir ’n lisensie aansoek te doen en hoe om onderhoud op ’n vuurwapen te doen. Die gids gaan ook veel verder deur te verduidelik hoe ’n vuurwapen vervoer mag word en aan jou persoon gedra mag word. Onder watter omstandighede ’n vuurwapen op iemand gerig mag word, word ook in die gids bespreek of selfs wanneer die vuurwapeneienaar in ’n noodweersituasie homself of iemand anders mag verdedig.

“In ’n noodweersituasie mag ’n vuurwapeneienaar sy vuurwapen gebruik. Daar moet egter ’n wederregtelike aanval op jou of ’n ander persoon wees wat onmiddellik dreigend is en nog nie afgehandel is nie. Daar moet ook ’n redelike verhouding tussen die aanval op jou of die ander persoon en jou afweerhandeling bestaan. Die goue reël is dat ’n lewe net geneem kan word om ’n lewe te beskerm,” verduidelik Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder

Met die aanloop tot die jagseisoen is die gids ’n nuttige stukkie leesstof vir die vervoer en gebruik van jaggewere (en sportskietgewere). Die vuurwapen moet byvoorbeeld in ’n toepaslike sak of houer vervoer word en in dieselfde voertuig as die eienaar daarvan wees. Die eienaar moet altyd die lisensie vir die jaggeweer, of enige ander vuurwapen, by hom hê. Wetstoepassers kan vir die lisensie vra en die vuurwapen inspekteur. Indien die lisensie nie byderhand is nie, kan die wetstoepasser die vuurwapen by die eienaar afneem en veilig bewaar tot wanneer die lisensie wel aan hom gewys kan word.

Die gids bevat ook inligting oor die berging van vuurwapens, die beperkings op ammunisie wat gebruik mag word en wat ’n mens doen in die geval van ’n verlore vuurwapen.

“AfriForum ondersteun die wettige en verantwoordelike besit en hantering van vuurwapens. Daarom het ons hierdie handleiding saamgestel om lede van die publiek in te lig, te bemagtig en ook te herinner aan hoe hulle binne die raamwerk van die wet met hul vuurwapens te werk moet gaan,” sluit Broodryk af.

Klik hier vir die volledige gids en hier om te luister na die gesprek tussen Kamfer en Broodryk.

Soortgelyke plasings