|

AfriForum-buurtwag gereed om te help toe brandweer se water opraak

AfriForum se Germiston-buurtwag het Donderdagoggend blitsig reageer toe ’n brand by Die Anker Tehuis uitgebreek het. Die Ekurhuleni-metro se nooddienste was eerste op die toneel, maar toe hulle water onklaar raak was die AfriForum-tak daar om water te voorsien sodat die brand geblus kon word. Hoewel ’n gedeelte van die gebou beskadig is het die brand nie na die res van die gebou versprei nie.

AfriForum-buurtwaglede het die brandweer gehelp om die 50 inwoners te ontruim. Een inwoner is oorlede en vier ander is na die hospitaal geneem om vir rook inaseming behandel te word. Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Die blitsvinnige reaksie deur die AfriForum-buurtwag en Ekurhuleni-metro se nooddienste het gehelp om die impak van die brand te beperk.

“Ons is dankbaar vir die vinnige reaksie en onbaatsugtige optrede van die AfriForum-buurtwag en die brandweerpersoneel wat hul eie lewens gewaag het om ander te red. AfriForum sal voortgaan om ons gemeenskappe te ondersteun en te beskerm,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Die Germiston-buurtwag doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by plaaslike veiligheidstrukture om sodoende te help om die gemeenskap te beveilig. Besoek www.wordlid.co.za of www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings