|

Malema en regspan misbruik weer die regstelsel met vertragingstaktieke

Leier van die EFF, Julius Malema, en sy regspan wend hulle tot betreurenswaardige vertragingstaktieke in Malema se vuurwapensaak, het AfriForum vandag gesê. AfriForum het in 2018 ’n klag teen Malema gelê nadat ’n video, waarin Malema ’n vuurwapen in die openbaar afvuur, aan die lig gekom het.

Die staat het vandeesweek sy saak teen Malema en sy lyfwag, Adriaan Snyman, in die Streekhof in Oos-Londen voortgesit, maar Malema se regspan het vandag ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet ’n aansoek om ontslag ingedien en beweer dat daar nie genoeg bewyse is om die beskuldigdes te vervolg nie.

“Dit is jammer dat Malema se regspan hom weer tot vertragingstaktieke gewend het, soos hulle al voorheen in hierdie saak gedoen het. Dit is duidelik dat daar ’n sterk saak teen die beskuldigdes is en hierdie aansoek is belaglik. Malema het ’n misdaad – ’n gevaarlike misdaad – gepleeg en moet die gevolge van sy dade dra. Dit is so eenvoudig soos dit,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Malema se advokaat het vandag aangevoer dat die video wat wyd op sosiale media gedeel is, waarin Malema blykbaar ’n vuurwapen in die openbaar afvuur, nie gewaarmerk kan word nie; dat niemand wat die betrokke geleentheid bygewoon het, werklik die skote gehoor het wat na bewering afgevuur is nie; dat daar geen bewyse is dat Malema in die onwettige besit van ammunisie was of ’n vuurwapen onwettig afgevuur het nie; en dat die staat versuim het om die toneel te rekonstrueer om te bepaal waar die koeëldoppie sou land nadat dit afgevuur is of selfs ’n ooggetuie te roep om te getuig dat hy gesien het hoe die vuurwapen geskiet word en derhalwe bang was as gevolg van hierdie optrede.

Die staat het gereageer en aangevoer dat voldoende bewyse wel in hierdie saak ingedien is. Die vuurwapen is voor die hof gelewer vir assessering en die hof is ook van video’s voorsien as bewyse om die klag te ondersteun. Verder is video’s van Gearhouse, die geleentheidsmaatskappy wat verantwoordelik was vir die oudiovisuele aspekte by die EFF-geleentheid in Julie 2018, sowel as die sogenaamde “viral video” ook by die hof ingedien as bewysstukke. In die video’s blyk dit duidelik dat die beskuldigde skote afgevuur het met die vuurwapen wat hy van Snyman ontvang het. Die staat het ook aangevoer dat ’n patroon in dieselfde stadion gevind is en dié patroon is aan een van Snyman se vuurwapens gekoppel.

Die saak is tot 19 Oktober uitgestel wanneer landdros Olivier haar uitspraak oor die aansoek om ontslag sal lewer.

Soortgelyke plasings