| |

AfriForum-buurtwag hou Pretoria-Wes veilig ná ongelukkigheid oor ontkoppelde kragverbindings

Sedert die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit sowat twee weke gelede onwettige kragverbindings in Pretoria-Wes ontkoppel het, heers daar groot ongelukkigheid onder die gebruikers van dié krag. Soveel so dat eiendomme en infrastruktuur in die Booysens-woonbuurt met klippe bestook en geplunder is. AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het egter hande gevat met ander privaat veiligheidstrukture en plaaslike wetstoepassers om seker te maak dat die inwoners van dié woonbuurt teen die onwettige kraggebruikers beskerm word.

Die Wes-Moot-buurtwag beveilig sedert 6 Mei dele van Pretoria-Wes terwyl die metro sy Tshwane Ya Tima-veldtog uitvoer. Die munisipaliteit beywer om met hierdie veldtog gereeld onwettige kragverbindings te ontkoppel en wanbetalers vas te vat. Sedert die veldtog in Pretoria-Wes van stapel gestuur is, ontplooi die Wes-Moot-buurtwag daagliks talle buurtwaglede na sleutelpunte in die gebied om seker te maak dat so min as moontlik skade aan die infrastruktuur gerig word ná afloop van hierdie ontkoppelings.

AfriForum se hommeltuig word gereeld ingespan om Uberwachung All Secure Corp en Hercules gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), asook wetstoepassers soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die polisie se openbareorde-polisiëring (POP) en die Tshwane-metropolisie (TMPD) te help om die bewegings van die oproerige groepe te monitor. Die Wes-Moot-buurtwag se beheerkamer verskaf ook deurlopend inligting aan veiligheidsdienste oor hierdie groepe se bewegings. Dit word deurentyd gekommunikeer sodat die veiligheidstrukture enige opstandigheid  in die kiem kan smoor.

Hoewel die oproerigheid grotendeels onder beheer gebring is, beywer die Wes-Moot-buurtwag en ander veiligheidstrukture steeds om proaktief op te tree en gereed te wees indien infrastruktuur in die gebied geteiken word.

“Hierdie voorvalle is weereens ’n bewys dat gebeurlikheidsplanne ten alle tye in plek moet wees en gereeld deur buurtwagte en ander veiligheidstrukture ingeoefen moet word. AfriForum se Wes-Moot-tak en -buurtwag sal voortgaan om te verseker dat wet en orde in die Tshwane-metro gehandhaaf word,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-streek.

AfriForum moedig die inwoners van Tshwane aan om by sy veiligheidstrukture betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings